Musikale vermaak en interessante stalletjies maak musiekfees tops
Witrivier Rugbyklub se musiekfees op 31 Oktober was voorwaar 'n gesinsuitstappie wat iets vir almal gebied het.
Daar was kleuters op hul grootouers se skote, al aan die speel en tieners en hul ouers het saam die musiekoptredes uit die boonste rakke geniet, en natuurlik koue bier. Hierdie het als bygedra om die eerste Witrivier Rugbyklub Musiekfees op 31 Oktober ‘n groot sukses te maak.
Daar was boonop springkastele en dinge om aan te peusel wat enige smulpaap se dag kon maak. Mark Hadiaris was daar met sy Marx Biltong. Om biltong te maak was eers sy stokperdjie, maar dit het gegroei tot hy sy eie winkel begin bedryf het. Hy het dit egter onlangs toegemaak en verkoop nou “die beste chilli bites,” aldus sy helper Lina Dlamini, van winkel tot winkel in Witrivier en het nog nooit weer teruggekyk nie.
Vir die soettande het Rustig Ouetehuis se vrywilligers gesorg vir pannekoek. Buiten kosstalletjies is ook heelwat klere en ander snuisterye te koop aangebied. Dewald McDonald en Resky Sibuyi het The Stainless Steel Workshop beman.
Op die verhoog was daar nie ‘n vervelige oomblik nie. Mona-Lee het veral vermaak en met haar rasperstem het sy die gehoor in vervoering gehad met haar vertolking van klassieke rockliedjies, soos Joan Jett se “I love Rock ‘n Roll”, “Tina Turner se “Simply the Best” en Kenny Loggins se “Footloose”.
Teen 17:00 was die tent tot barstenstoe vol, voor die Rugbywêreldbeker se finaal op grootskerms gewys is. Blackie Swart het die kuiermense verder tot laataand vermaak.
Loer na meer foto’s hier.
