Hard newsLocal newsNewsNews

Helikopter wat opname doen, het inwoners op hol

Baie inwoners het onlangs kopgekrap oor 'n helikopter wat heen en weer oor die dorp en omgewing gevlieg het.

LYDENBURG – Baie inwoners het onlangs kopgekrap oor ‘n helikopter wat heen en weer oor die dorp en omgewing gevlieg het.

Baie het bespiegel dat dit dalk die SAPS is wat die booswigte soek wat in die laaste paar weke kommer gesaai het toe daar by verskillende huise in die dorp ingebreek is.

Dié helikopter het egter nie menslike indringers gesoek nie, maar wel indringerplante.

“Die huidige projek genaamd “Naips” is ‘n nasionale opname om die verspreiding van indringerplante te karteer deur middel van data wat uit die lug ingesamel word. Ons dek die hele Suid-Afrika in

12 maande en maak gebruik van een vliegtuig en ‘n helikopter,” verduidelik mnr. Ryno Bezuidenhout, Naips-veldbestuurder.

Die vliegtuig doen opnames in plat areas soos die Vrystaat, Natalse grasveld, Noordkaap en Karoo asook dele van Noordwes.

Die helikopter, op sy beurt, dek die bergareas en riviere.

Die span bestaan uit ‘n vlieënier, ‘n waarnemer wat die plantidentifikasie asook digthede en ouderdomsklasse en landskapklas (soos grasveld, bosveld ens.) identifiseer en ‘n grondeenheid wat hulle van brandstof in die veld voorsien.

“Tydens opname van die land sal ons sowat 80 000 punte besoek wat vooraf statisties bepaal is asook elke rivier in Suid-Afrika monitor waar ons ‘n opname elke 1 600 meter doen.

Die data word dan met data vergelyk van die vorige opname van Suid-Afrika, Lesotho en Swaziland wat ons in 2007/08 voltooi het om te kyk na toename of afname en verspreidingspatrone sedertdien,” sê Bezuidenhout.

Die projek word geldelik gesteun deur die nasionale Departement van Omgewingsake en in geheel deur die Landbou Navorsingsraad bestuur.

Die data sal dan beskikbaar gestel word aan ander staatsdepartemente, semi-staat en privaat bewaringsorganisasies.

Die data sal gebruik word vir die prioritisering en beplanning van indringerplantbeheer, skoonmaak van opvangsgebiede en riviere en bestuur van reservate of natuurlike areas in terme

van biodiversiteitsbewaring.

Die huidige projek behoort teen einde Maart 2016 voltooi te wees.

Die Naips-span wat Lydenburg gedek het, bestaan uit Bezuidenhout, Eddie Wilson helikoptervlieënier (R44) en Magnus Patterson, Naips-veldondersteuning.

Die span het by Aqua Terra-gastehuis op die dorp tuisgegaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button