MBOMBELA – Die Mpumalanga Rugby-unie (MRU) het nou nog nie sy skuld aan Khanda Seating vereffen nie. Dit ten spyte van ‘n Hooggeregshofbevel wat hulle beveel om dit te doen. Die unie swyg egter soos die graf oor sy finansiële gesondheid.
Dié dispuut tussen die unie en Khanda woed al sedert 2010 toe laasgenoemde 2 700 stoele teen R286 767 by die Puma Atlantic Stadion in eMalahleni geïnstalleer het. Dit was kort voor ‘n internasionale toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Italië.
Lees ook: Mpumalanga Rugby-unie moet hoés, las hof
Die unie het egter aangevoer dat Nkangala-distriksmunisipaliteit onderneem het om die geld te betaal. Khanda het later uit radeloosheid hom tot die hof gewend en Nkangala is as derde party by die saak betrek. Die hof het in Khanda én die munisipaliteit se guns beslis en gelas dat die unie moet betaal.
Mnr. Koos Kruger, hoofuitvoerende-beampte van MRU, is telkens tydens die hof se uitspraak as die sondebok uitgesonder. Hy het namens die unie met Khanda Seating onderhandel en die munisipaliteit was nooit ter sprake nie. Enigiets bo R200 000 moes in elk geval op tender uitgaan. Luidens hofstukke het Kruger boonop geweet dat die unie nooit vir die stoele sou betaal nie omdat dit nie die fondse gehad het nie.
Uitspraak is Augustus verlede jaar gelewer. Toe het die uitstaande skuld al meer as R500 000 beloop nadat rente bygereken is. Die unie het steeds nie betaal nie en Khanda het ‘n aansoek voor die hof gebring dat dit gelikwideer moet word.
Lees ook: President van rugby-unie vaar uit teen media
Laevelder het MRU reguit gevra of dit geld het om die hofbevel te eerbiedig, al dan nie. Mnr. Pieter Burger, uitvoerende hoof van die unie, het by navraag gesê dat “aansienlike moeite” gedoen is om ‘n oplossing te vind ten opsigte van betaling deur middel van onderhandelinge met die plaaslike stadsraad. Suksesvolle onderhandeling het ‘n werkbare oplossing tot gevolg gehad.
“Hierdie oplossing is destyds vriendelik van die hand gewys deur mnr. Sidney Robson (van Khanda).”
Robson het egter gesê dat die unie aangedui het dat dit wou skik, maar nooit met ‘n ooreenkoms vorendag gekom het nie. “Ons regspan het nou opdrag om voort te gaan met ‘n likwidasie-aansoek,” het hy bygevoeg.
