Oudinwoner en span voltooi pelgrimstog
Die span bedank almal wat hulle met boodskappe, gebede, befondsing en donasies ondersteun het
MALALANE – ‘n Oudinwoner het pas die land met ‘n fiets oorkruis ter bewusmaking en ten bate van geestesbediening by die Jakaranda Kinderhuis in Pretoria.
Yvonne Strydom, voorheen Boshoff, het op 31 Oktober saam met haar spanmaats, ds. Drian Viljoen wat die geestelike bediening by die kinderhuis behartig en die fietsry-afrigter, Lucky Mpuru van Pretoria na Port Elizabeth vertrek. Mpuru is ook by die kinderhuis werksaam.
Yvonne sê hierdie reis was ‘n geestelike ekspedisie met Jesaja 1:17 as riglyn: “Leer eers om goed te doen, sorg dat mense regverdig behandel word, help mense wat verdruk word, verdedig die weeskind, pleit vir die regte van die weduwee.”
Met hierdie teksvers as motivering en Yvonne se droom om ‘n ultra-afstand te doen, het sy Kamcare, ‘n organisasie sonder winsbejag, genader om hierdie geleentheid in ‘n bewusmakingsveldtog vir Jakaranda Kinderhuis se geestesbediening te omskep.
Nou gaan kinders van die tehuis aanstaande jaar hierdie epiese tog self aanpak. Die span het intussen die roete as verkenning aangepak om fondse in te samel en om mense van die kinderhuis bewus te maak. Die roete wat hul gery het was vanaf Pretoria na Frankfort, Bethlehem, Windburg, Tweespruit, Bloemfontein, Gariep, Steynsburg, Tarkastad, Cradock oor Somerset-Oos, en het op 11 November in Port Elizabeth geëindig.
Yvonne glo dat hierdie toer volgende jaar vir die kinders van Jakaranda die ervaring van ‘n leeftyd gaan wees. Dit sal verseker met emosionele en geestlike groei gepaardgaan, wat in die toekoms vir hulle van onskatbare waarde gaan wees.
Yvonne het sedert 1988 in Malalane gewoon en hier skoolgegaan. Sy was later in die koshuis by Hoërskool Nelspruit waarna sy na Pretoria verhuis het. Die span bedank almal wat hulle met boodskappe, gebede, befondsing en donasies ondersteun het. Ondersteuners het hulle op die Facebook-groep, Join my Journey gevolg.
Donasies vir volgende jaar se toer kan aan Kamcare Social and Training Services, Absa-rekeningnommer: 407-235-3253 gemaak word.
