Koos is nie dood nie, hy kort net ‘n bietjie klank
Koos Kombuis se optrede Saterdag by Jock Pub & Grill was nie sonder voorval nie.

MBOMBELA – Koos Kombuis steur hom nie veel aan etikette, of etiket nie. Toe hy Saterdagaand net na 18:00 by Jock Pub & Grill opdaag, is hy met ‘n dolleë verhoog, sonder ‘n mikrofoon of klankversterker in sig, begroet.
Dié legende van Afrikaanse musiek, wat al 60 jaar oud is, het nie ‘n vreeslike bohaai opgeskop nie. Hy het net voor 21:00 met slegs sy bokskitaar met “Lente in die Boland” weggetrek.
Hoopvolle konsertgangers het gemor dat hulle hom nie kon hoor nie.
“Sorrie, die sound ou het vergeet om vir my sound te organise,” het hy laat hoor, en mense genooi om maar nader te skuif.
Sowat ‘n halfuur later was die verhoog opgestel. Van sy grootste treffers is al dekades oud, maar Koos vernuwe dié liedjies moeiteloos deur kommentaar op kontemporêre kwessies daarby in te werk. Hy het toestemming gevra vir die “vloekwoordjies” wat hy gesing het.
Die “F***l song” is só aangepas om die vlugtelinge in Europa in te sluit. “Hulle vlug met hul kindertjies, want dis al wat hulle het.”
Op ‘n ligter noot en getrou aan die Banting-dieet wat die nuutste voorskrif vir ‘n gesonde lewenstyl is, het sy gewilde lied, “Almal wil ‘n huisie by die see hê”, “almal wil drie suikers in hulle tee hê,” bygekry.
Die optrede was vir sy aanhangers en hy het alles gespeel wat hulle gevra het. Só het hy sy “grootste aanhanger”, Jaco Groenewald se dag gemaak met sy gunstelingliedjie, “Liefde uit die oude doos”.
“Lisa se klavier” en “Bicycle sonder ‘n slot” was hartroerend, “Katie” en “Sestien jaar met ‘n vals kitaar” het die voete laat jeuk.
Hy het opgemerk dat die optrede sonder klankversterking hom na die begin van sy loopbaan teruggeneem het. “Ek onthou destyds toe ek vir ‘n bord kos sou speel.”
Laevelder het Jock se eienaar, David Cruse, vir kommentaar oor die voorval genader. “Dit was absoluut ons fout. Ons mense moes die klank reël, en ons het nie. Ons vra groot om verskoning aan die publiek en aan Koos Kombuis.”
- Sien meer foto’s: Koos Kombuis rock Jock, selfs akoesties
