MBOMBELA – ‘n Soektog na ‘n vermiste inwoner het Woensdag tragies geëindig toe daar op sy voertuigwrak en lyk afgekom is.
Mnr. Dirk Gouws se voertuig het tussen Dinsdagaand en vroeg Woensdagoggend die Kaapsehoop-pad verlaat, deur ‘n versperring gebars en sowat 50 meter na onder gerol. Hy is uit die voertuig geslinger en in die proses dood.
‘n Vriend van Gouws het Nelspruit Concerned Citizens (NCC) Dinsdagaand omstreeks 23:00 ingelig dat hy vermis is. Mnr. Johan Janse van Vuuren van NCC het gesê dat die vriend genoem het dat Gouws moontlik in die rigting van Kaapsehoop gery het. Beamptes van NCC en dié van ACS Security het toe in die omgewing gaan soek, maar kon niks kry nie.
Die soektog is omstreeks 03:00 Woensdagoggend gestaak. Daar is vasgestel dat Gouws se voertuig met ‘n opsporingstelsel van Tracker toegerus is en mnre. Johan Nieuwenhuizen en Albert Greyvenstein is ook by die ondersoek betrek.
Hulle kon vasstel dat die voertuig wel in die Kaapsehoop-omgewing was. Reddingswerkers kon dit egter nie te voet bereik nie weens die ruig bosse. Mnr. Jacques Meiring van Bossie’s Community Justice en beamptes van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het hulle ook intussen by die soektog aangesluit.
Lees ook: Vrou wat ongeluk in Ferreirastraat aanskou deel haar ervaring
Die polisie se lugvleuel is ook betrek en die vlieënier van een hulle helikopters kon uiteindelik die wrak vanuit die lug sien. Komatiland Forests het toe vir mnr. Anton Strydom van Off Road Rescue Unit gekontak en hy is na die toneel om te help met die herwinning van Gouws se liggaam. “Die area was baie steil en dig bebos,” het hy gesê.
Me. Elsabe Coetzee het op Facebook opgemerk: “So jammer! Baie tragies. Het op pad Ngodwana toe daar verby gery. My hart wou breek toe ek die familie daar langs die pad sien staan en wag. Hulle was stukkend! Ek ken die gesin net van sien maar ek wou nogtans my arms om hulle slaan om hulle te troos. Dit is verskriklik. So ‘n pragtige jong man in die fleur van sy lewe! Ek is so jammer.”
Lees ook: Vrou sterf in ongeluk op pad huis toe van Innibos af
Volgens Gouws se Facebook-blad was hy in Hoërskool Rob Ferreira by Selmec werksaam. Verskeie mense het boodskappe van medelye op sy blad geplaas, asook op dié van sy vriendin, me. Monique Klusmann. André Carika Engelbrecht het geskryf: “Elize, Jan, Ilse, Nico, Monique, Mia en Zander: ons innige simpatie met die afsterwe van Dirkie. Ons dink aan julle en bid dat die Here julle styf sal vashou in hierdie hartseer tyd. Woorde gaan nie jul seer wegvat nie, maar ons is hier vir julle. Hou vas aan al julle herinneringe saam met hom. Dirkie, jou plekkie is leeg en ons almal gaan jou vreeslik mis. Rus in Vrede in ons Hemelse Vader se hand.”
Kapt. Piet Smit, bevelvoerder van die polisie op Ngodwana, het bevestig dat hulle ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.
