
MBOMBELA – Vier mense is vroeër vanaand na ‘n hospitaal weggevoer nadat ‘n groot stuk van ‘n kapokdoringboom op die tent by die buite gedeelte van Die Stoep ineengestort het.
Dit het omstreeks 20:30 gebeur, net nadat ‘n vinnige reënbui oor die stad uitgesak het.
Verskeie kliënte het Die Stoep se weeklikse sogenaamde open mic-aande bygewoon waartydens opkomende sangers gratis vertonings lewer.
Mnr. Martin Taljaard, ‘n kelner by Die Stoep, het vertel dat hy eenkant gestaan en rook het toe hy sien hoe die boom kant to beur. Hy het gesien dat dit op die punt was om te breek en het geskree in ‘n poging om kliënte te waarsku. Hulle het egter in ongeloof na hom gestaar.
Die boom het oomblikke later, sowat twee meter bokant die grond, gebreek en op die tent geval. Die onderste deel van die stam het nog net so in die grond geanker bly staan.
Paramedici en die plaaslike brandweer was kort hierna op die toneel en vier mense is met ‘n ambulans weggeneem. Een van hulle se beserings is as ernstig bestempel.
Mnr. Kobus Jacobs, eienaar van Sonpark waar Die Stoep geleë is, was ook op die toneel om homself van die skade te vergewis.
Foto deur Stefan de Villiers
