Hard newsLocal newsNewsNews

‘Stoute’ sewejarige word langs pad gelaat

Volgens me. Tureste Godfrey, 'n onderwyser by Jakkalskrans Akademie uit op dié pad, was sy dié oggend op pad werk toe toe die voorval plaasgevind het.

LYDENBURG -‘n Herrie het verlede Woensdag ontstaan nadat ‘n sewejarige seun van Lelievlei-deurgangskamp langs die Dukeillenpad afgelaai is deur sy ma en ‘n bestuurslid van dié kamp.

Volgens me. Tureste Godfrey, ‘n onderwyser by Jakkalskrans Akademie uit op dié pad, was sy dié oggend op pad werk toe toe die voorval plaasgevind het.

“Ek het ‘n rooi kar langs die pad sien stop op die draai voor die visserye se ingang en gesien hoe ‘n seun daar afgelaai word. Die voertuig het weggery in die rigting van die visserye. Ek het stadiger gery om te sien wat gebeur.

“Die kar is by die visserye se hek in en die kind het begin terugloop dorp se kant toe. Ek het omgedraai en na die kind gery. ‘n Werknemer van die visserye het ook gesien wat gebeur het.”

Sy het vir die man gevra of hy gesien het wat gebeur en hy het dit bevestig. “Ek het by die seuntjie gestop. Hy het verskriklik gehuil en kon glad nie praat nie. Die voertuig het toe intussen teruggekom en verby my en die seun gery. Die kind het agter die kar aan begin hardloop.”

Toe dit egter nie stop nie, is hy terug na Godfrey. Sy vertel dat die kar eers ‘n ent verder omgedraai en na haar en die seun gery het.

“Toe ek hulle konfronteer en vra wat aangaan het die man (‘n bestuurder by die kamp) vir my gesê dat hulle die kind ‘n les probeer leer. Volgens hom vloek, steel en lieg die seun.

“Ek het vir hom gesê dat dit nie die manier is om dit te doen nie. Ek het hom gevra of hy nie bewus is van kinders wat daagliks ontvoer word nie. Sy antwoord was bloot dat dit nie sal gebeur nie en dat die kind heeltyd in sy sig was. Die ma het niks gesê nie en nie oogkontak gemaak nie.”

Godfrey vertel dat die kind vreeslik bang was en nie in die voertuig wou klim nie. Sy meen dat die kamp veronderstel is om beskermingssorg te bied vir vroue, kinders en mans.

“Hoe kan jy dit regverdig?” Steelburger/Lydenburg Nuus het met

mnr. Chris Black, die ma (haar identiteit word nie bekendgemaak nie om die kind te beskerm) en mnr. Frik Rousseau van Lelievlei oor die voorval gaan praat.

Black het erken dat hy die kind afgelaai het. “Hy is ongelooflik stout. Hy vloek en steel. Ek het al mooi met hom gepraat en hom geslaan – met sy ouers se toestemming, selfs geskree, maar niks werk nie. Die betrokke oggend het hy weer R20 uit sy pa se beursie gevat. Hy het hier en by Spaar-O-Rama gaan lekkers koop daarmee.”

Volgens Black het die ma na hom gekom en gesê dat sy nie meer so met die kind kan aangaan nie en dat sy die welsyn gaan bel dat hulle hom kom haal. “Ek het vir haar gesê dat sy dit nie kan doen nie. Kom ons maak ‘n ander plan.

“Ons het met hom gery en ek het hom op die draai gaan aflaai. Ek het hom egter heeltyd in die oog gehad.

“Ek het verby hom gery en gehoor hoe hy skree ‘Mamma’, toe weet ek dit gaan gou wees dan is hy by ons. Ek het toe by die volgende draai gestop. Toe hy nie kom nie, draai ek terug en kry hom by die vrou en die man.”

Black het bevestig dat Godfrey hom gekonfronteer en gesê het dat dit verkeerd is. “Ek het vir haar gevra: Nou gee jy vir my raad, maar sy kon nie.”

Volgens Black is die kind sedert die voorval meer kalm. “Ek het vir hom gesê dat ek hom volgende keer op die Ohrigstadpad gaan aflaai en dat dit nou of reg of weg is vir hom. Hy het vir my na die tyd vertel dat hy sal regkom.”

Rousseau het aan die koerant gesê dat hy reeds met sy regsverteenwoordiger geskakel het en dat hy ‘n naamskending-saak oorweeg weens die feit dat hy voel Lelievlei se naam deur die modder

gesleep is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button