Vuurwerke en klappers is ongelooflik luid en selfs gevaarlik vir diere. Party honde word so bang dat hulle hulself en ander beseer om van die rumoer af weg te kom, en sommiges hardloop van die huis af weg en raak vermis. Veral in die omgewing van West Acres en Stonehenge is inwoners op 31 Desember tot raserny gedryf.
‘n Inwoner van Steiltes, Colette Van Zyl, se hond is weg sedert Donderdagaand. “Die bure het vuurwerke afgeskiet wat so hard was, dat dit soos ‘n volskaalse oorlog geklink het.”
“Ons swart Labrador het uitgekom en pad gevat, en alhoewel ons hom dadelik begin soek het en nogsteeds soek, het ons hom nog nie gekry nie.
“Die ander hond was te klein om oor die mure te kom en het gaan wegkruip, heeltemal verbouereerd.”
Hulle het die afgelope vyf dae aanhou soek en geadverteer, en so in aanraking gekom met ‘n magdom ander mense wie se diere vermis of beseer is as gevolg van die vuurwerke.
“Soveel mense beleef op die oomblik baie hartseer omdat hulle dierekinders weg is, en die enigste rede daarvoor is dat ‘n paar mense vir ‘n uur of twee ‘vermaak’ gehad het.
“Dit is totaal onaanvaarbaar dat iets wat onwettig is steeds gebeur, oop en bloot in die publiek, en niks word daaraan gedoen nie.”
Belinda Botha* van West Acres Ext 6, vertel sy het al vermoed hier kom moeilikheid toe die klapperknalle al 24 Desember deur die buurt begin weerklink het.
“En dit op allerheiligste Oukersaand. Dit is redelik onvanpas.”
Op Oujaarsaand het dit weer opgevlam. “Ek moet byvoeg, dit het nie die hele nag aangehou nie, net so van 12:00 tot 02:00. Maar dit was grótes, dit was hárd.”
Nie net was haar twee honde op hol nie, haar dogtertjie was net so bang.
“’n Mens voel so magteloos, want daar is niks wat jy daaraan kan doen nie, terwyl mense geen bedagsaamheid het vir mense of oorweging vir die wet het nie.”
Die Bothas maak al vir jare ‘n punt daarvan om altyd op Oujaarsaand by die huis te wees, om na die honde om te sien, as gevolg van die klappers.
Mia Malan* van Stonehenge, was uiters verbaas toe sy Sondagmiddag by die huis kom van vakansie af, en die klank van klappers in die buurt hoor. Klein klappertjies, ja, asook grotes met ‘n oorverdowende knal.
Sy vertel dit het Sondag die hele middag tot die aand geduur, het Maandagmiddag weer weerklink en selfs Dinsdagoggend om 06:30 wéér.
“Dit is uiters steurend. Net vanoggend (Dinsdag) het daar ‘n volksvreemde poedel in die kompleks aangekom, hoogs verward en verlore.”
Malan wil weet wat die punt is: dis nie asof die klappers mooi vertoon of vuurwerke sigbaar is in die dag nie.
Louie Amorim, voorsitter van die Dierebeskermingsvereniging in Mbombela, sê egter dat die afgelope oujaar aansienlik stiller was as in 2014.
Toe het hulle eers 03:45 die oggend hul laaste uitroep afgehandel. Die verlore diere wat die DBV opgetel het en by hulle aangemeld is, is ook ongeveer die helfte minder.
“Algeheel was dit definitief rustiger. Verlede jaar (2014) het mense pakette verkoop by amper elke robot. Maar die polisie het opgetree en dit was (voor Oujaarsaand) nie so vrylik beskikbaar nie.
“Verlede jaar was dit ‘n groot probleem. In vergelyking was 2015 gering.”
* Nie hul regte name nie.
