Jong onderwyser volg in ma se voetspore
Engelbrecht het in 2009 saam met sy ma, Bettie hierheen verhuis toe sy 'n pos as Afrikaanse onderwyser by Laerskool Burgersfort gekry het
BURGERSFORT – Mnr. Dirk Engelbrecht, ‘n oud-Burgersforter, is terug in die dorp en hy is meer as ooit gereed om in sy ma se voetspore as onderwyser te volg.
Engelbrecht het in 2009 saam met sy ma, Bettie hierheen verhuis toe sy ‘n pos as Afrikaanse onderwyser by Laerskool Burgersfort gekry het.
“In daardie stadium het ek hoërskoolfase begin. Ons het op die skool se perseel in een van die woonstelle gewoon. Ek het my ma as ‘n onderwyser gesien maar het self nog nie besluit om een te word nie,” vertel hy.
Me. Engelbrecht is op 16 Januarie 2013 oorlede terwyl Dirk sy matriekjaar voltooi het. Hy het daarna na Pretoria verhuis waar hy besluit het om in sy ma se voetspore as onderwyser te volg.
“My ma was ‘n uitstekende onderwyser. Sy sou haar pouses saam met die kinders deurbring. Dit is juis dié liefde wat sy vir haar leerlinge gehad het, wat my geïnspireer het om onderwys te studeer,” voeg hy by. Dirk het by Aros Universiteit ingeskryf om sy onderwysgraad te verwerf en teen 2014 het hy die universiteit verlaat om sy studies deur Unisa te voltooi.
Hy was ook aktief betrokke by sy kerk se Christelike Afrikaanse uitreike waar hulle tyd saam met die jeug deurgebring het. Hy voeg by dat hy ‘n passie het om kinders te leer en te inspireer. Tydens die uitreike was dit vir hom wonderlik om te sien hoe geloof en die jeug hand-aan-hand loop.
“Ek het gehoor van die pos wat vanjaar by Laerskool Burgersfort sou oopgaan en het onmiddellik aansoek gedoen. Ek het die pos gekry wat ook verblyf ingesluit het. Toe ek verlede week hier aankom, was ek omtrent verras toe ek uitvind dat ek in dieselfde woonstel waarin ek as kind saam my ma gewoon het, sou bly,” vertel hy.
Dirk sal rekenaarklasse vir al die grade aanbied, asook sosiale wetenskap vir die gr. 5-leerders. Hy is tans besig om sy graad deur Unisa te voltooi en sal dit teen 2018 verwerf. Hy vertel dat hy daagliks in sy onderwysloopbaan baie by sy ma geleer het en van haar metodes gebruik, maar voeg by dat hy gereed is om sy eie identiteit as onderwyser te vestig. Hy wil hê mense moet hom onthou en aanspreek as Dirk, nie juffrou Bettie se seun nie.
“My ma het altyd die klavier gespeel wanneer die skoollied gesing word, maar sedert haar dood het niemand dit weer gedoen nie. Sy was die enigste onderwyser wat klavier kon speel.
“Ek gaan vanjaar begin om die skool se koor af te rig en sal selfs dalk nog klavierlesse neem. Wie weet? Dalk doen ek teen die einde van die jaar die begeleiding vir die sing van die skoollied.”
