Talentvolle sanger kom maak sy eerste draai
Ricus Nel, die sanger met vele talente, het Vrydagaand 'n onvergeetlike vertoning tydens sy eerste optrede in Lydenburg gelewer.
LYDENBURG – Ricus Nel, die sanger met vele talente, het Vrydagaand ‘n onvergeetlike vertoning tydens sy eerste optrede in Lydenburg gelewer.
Die konsert in die stadsaal, was ten bate van die Lydenburg Akademie CVO-skool.
In ‘n onderhoud met Steelburger/Lydenburg Nuus het Nel vertel dat hy nog altyd op Lydenburg wou optree. “Ek ry so drie keer per jaar deur die dorp en het altyd gewonder hoe dit sou wees om in so ‘n klein en beskeie dorpie op te tree. Vandag is ek eindelik hier, ek moes vier jaar hiervoor wag en is regtig opgewonde.”
Hy toer op die oomblik deur die land waar hy hulde bring aan die liedjies van Don Williams. “Kyk uit vir my eerste Afrikaanse album later vanjaar in Mei,” het hy bygevoeg.
Die konsert is een van die CVO-skool se fondsinsamelingsprojekte. Die skool hoop om met sulke projekte genoeg geld in te samel om so voort te gaan met die handhawing van alles wat hulle nodig het om die skool aan die gang te hou. Só sal dit ook nie nodig wees om die skoolfonds te verhoog nie.






