Hard newsNews

Voormalige prostituut pleeg bedrog ‘vir die kindertjies’

Sy het prostitusie laat staan en beywer haar nou vir liefdadigheid - al dwing dit haar tot bedrog.

Die 48-jarige vrou het nie sommer net bedrog gepleeg nie.

Sy het dit “vir die kindertjies” gedoen.

Só het die beskuldigde die landdros in die Nelspruit Streekshof Donderdagmiddag probeer oortuig.

Die vrou – kom ons noem haar maar Ralie* – het met die intrapslag simpatie uitgelok. Sy het gesukkel om te loop en met ‘n kruk na die beskuldigdebank toe geskuifel.

Haar esse het moeilik uitgekom. Of dit weens ‘n lisp of die afwesigheid van valstande was, kon ‘n mens nie uit die galery sien nie.

Ralie het so regop gestaan as wat sy kon en skuldig gepleit op bedrog.

“Dit het alles begin toe Zimbabwiërs my genader het om ‘n tjek namens hulle by Absa te wissel,” het sy gesê. “Ek het geweet dat hulle nie Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente gehad het nie, maar is geld vir hierdie diens aangebied,” het sy vertel. Die teller aan wie sy die tjek gegee het, het die polisie gebel en Ralie is gearresteer voor die tjek gewissel kon word.

Ralie het gesê dat sy betrokke was by ‘n organisasie sonder winsbejag wat jaarliks vir kinders Kersgeskenke koop. “Ons het nie genoeg geld gehad vir die kindertjies se geskenke nie en ek sou die geld wat ek uit die transaksie sou maak, daarvoor gebruik.”

Nadat Ralie verduidelik het dat die bedrog “vir die kindertjies” gepleeg is, het sy nogtans skuld beken.

Voordat sy gevonnis kon word, moes haar kriminele rekord aangespreek word. Die staatsaanklaer,
mnr. Michael Mazibuko, het haar gevra of sy ‘n kriminele rekord het. “Volgens die staat se rekords het jy die Drankwet oortree in 1980’s en ‘n skulderkenningsboete betaal,” het hy gesê.

Ralie was verbaas hieroor. “Nee, nee. Ek was ‘n kroegdame hier teen 1986 se kant.” Sy het ‘n oomblik stil gebly, asof sy haar woorde geweeg het. “Ek….ek was ‘n prostituut,” het sy gesê. “Ek is ‘n paar keer gearresteer vir loitering.”

Die vrou in die beskuldigdebank het laat blyk dat 1986 vir haar 'n besige jaar was.
Die vrou in die beskuldigdebank het laat blyk dat 1986 vir haar ‘n besige jaar was.

 

Mazibuko het haar gevra of sy enigsins kon onthou dat sy tereggestaan het op enige drankverwante klagtes. Ralie het op haar kruk geleun, gesug en gesê: “Meneer, die ’80s was wild.”

Só het partytjiegangers in die 1980s gelyk.  (foto:mancestereveningnews.co.za)
Só het partytjiegangers in die 1980s gelyk. (foto:mancestereveningnews.co.za)
'n Pinterest foto van partytjiediere in 'n klub.
‘n Pinterest foto van partytjiediere in ‘n klub.

“Daar was baie drank betrokke. Ek kan nie so iets onthou nie,” het sy gesê.

Die vrou kon nie onthou of sy vir drankverwante oortredings vervolg is nie.
Die vrou kon nie onthou of sy vir drankverwante oortredings vervolg is nie.

Mazibuko het haar as ‘n eerste oortreder hanteer.

Ralie het ‘n opgeskorte vonnis ontvang en is gemaan om haar nie weer aan so ‘n oortreding skuldig te maak nie. Die trane het oor haar wange gerol toe sy haar berou uitgespreek het oor haar oortredinge – die van die ’80s en haar bedrog.

“Ek het my in jare nie weer skuldig gemaak aan dinge soos prostitusie nie. Daardie dinge het ek agter my gesit,” het sy met oënskynlik opregte berou gesê. “En ek sal nooit, ooit weer bedrog pleeg nie.”

*Skuilnaam – Die beskuldigde word weens die melding van haar vroeëre prostitusie nie geïdentifiseer nie.

Lees ook: “The system is down” – wat ‘n frustrasie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button