MBOMBELA – Kruisondervraging van die sogenaamde Onderberg Ninjas is onlangs in die Nelspruit Streekshof begin. Die vier Mosambiekers is al sedert 2011 op verhoor.
Die getuienis teen mnre. Moses Silinda (31), Pieto Gwambe (28), Sam Chauke (37) en Venas Gavane (28) soos dit oor die afgelope vier jaar en vyf maande deur die staat aangebied is, het die gebeure wat tot hul arrestasie gelei het, geskets.
Die Onderberg is in daardie jaar deur ‘n aantal rowe geteister. Die vier beskuldigdes word van die pleeg van sommige daarvan aangekla.
Lees ook: So het Onderbergers die Ninjas vasgetrek.
Volgens getuienis in die saak, is van die goed wat tydens hierdie rowe gesteel is, deur die Mosambiekse polisie in van die beskuldigdes se besit gevind.
Terwyl hulle in die Mosambiekse tronk verhoorafwagtend was, het die Onderbergse polisie foto’s van hulle bekom. Op hierdie foto’s het die gesigte van Silinda, Chauke en Gavane verskyn.
Dieselfde foto’s is destyds in Laevelder gepubliseer en die gemeenskap is gewaarsku op die uitkyk te wees. Kort daarna, op die oggend van 23 November, is nog ‘n roof gepleeg.
Die polisie, gemeenskapslede en sekuriteitsmaatskappye het die omgewing gefynkam. Die drie is teen skemer daardie aand danksy ‘n reuse-gemeenskapspoging in die Coopersdal-omgewing gearresteer. Gwambe is kort daarna in hegtenis geneem.
Silinda was die eerste wat deur senior staatsadvokaat me. Isabet Erwee gekruisondervra is.
Sy onlangse ontkenning van ‘n uitwysing wat hy met betrekking tot ‘n rooftoneel gemaak het, is deur Erwee geopper.
Sy wou weet hoekom hy nie voorheen hierteen beswaar gemaak het nie.
Sy getuienis dat hy nie destyds saam met Chauke en Gavane in Mosambiek in die tronk was nie, is ook deur haar bevraagteken. Hy het egter by sy weergawe gehou. Die saak sal eersdaags weer hervat word.
