MBOMBELA – ‘n Vroulike ryloper in haar vroeë 30’s het Saterdagoggend uit ‘n bewegende motor gespring om glo weg te kom van ‘n man wat haar probeer verkrag het. Sy is per ambulans na Rob Ferreira Hospitaal se ongevalle-eenheid gehaas nadat motoriste haar bebloed en getraumatiseerd langs die pad opgemerk het.
‘n Plaaslike motoris het tussen laataand Vrydag en vroegoggend Saterdag op die R40 in die rigting van Witrivier gery. Die bron, wat anoniem wil bly, het die vrou naby die Elawini-afdraai in die pad sien staan. Volgens hom was haar wit broekie om haar enkels. Daar was baie bloed op haar bene en sy het geskreeu en gewaai in ‘n poging om verbygaade motoriste tot stilstand te bring.
Die motoris was bang dat dit moontlik ‘n lokval was en het J&M Sekuriteit geskakel, wat ‘n voertuig na die toneel ontbied het. Mnr. Shaun Terblanche van die sekuriteitsmaatskappy het aan Laevelder bevestig dat van die personeellede op die vrou afgekom het. “Sy het ‘n 40 sentimeter lange sny op haar been gehad,” het Terblanche gesê.
Sy het gesê dat sy geryloop het en deur ‘n man opgelaai is. Die man het haar na bewering probeer verkrag, waarna sy uit sy bewegende motor gespring het. J&M-werknemers het nooddienste na die toneel ontbied.
ER24-woordvoerder mnr. Werner Vermaak het bevestig dat sy teen 01:00 deur die ambulans opgelaai is. “Die groot wond op haar been is skoongemaak en sy is na Rob Ferreira Hospitaal geneem,” het hy gesê.
Vermaak het bygevoeg dat nooddienspersoneel ‘n vrou met dieselfde voorkoms as die slagoffer, vroeër die aand in dieselfde omgewing opgemerk het.
Polisiewoordvoerder kapt. Dawie Pretorius het gesê dat een saak van verkragting die naweek by die polisie gelê is. “Die klaer in hierdie saak het op die R40 naby Riverside se Tiger Wheel & Tyre gestaan en ryloop, waarna sy deur ‘n man opgelaai is. Sy is glo verkrag en het uit die man se motor gespring,” het hy gesê.
Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek nou die saak. Laevelder het provinsiale polisiewoordvoerder brig. Selvy Mohlala geskakel om te verneem hoe die ondersoek vorder, maar kon hom nie teen druktyd in die hande kry nie.
