EnvironmentalLocal newsNewsNews

Renosterchirurg bring hoop aan slagoffers

Dr. Johan Marais en sy span medewerkers van Onderstepoort gee die toon aan in die veld van renosterchirurgie en begin op 3 Mei vroegoggend met 'n innoverende hersteloperasie op 'n renosterwesie, Hope, wat die wêreld se verbeelding met haar verbasende en moedige herstel aangegryp het.

MBOMBELA – Dr. Johan Marais, toegewyde veearts en renosterchirurg, is die leier in ’n vernuwende vorm van bewaring, naamlik chirurgiese bewaring.

Marais en sy span medewerkers van Onderstepoort gee die toon aan in hierdie nuwe veld met hulle innoverende werk met slagoffers van renosterstroping. Respek en agting vir elke enkele dierelewe het hy van sy pa, Willem, ‘n eertydse bewaarder in die Etosha Nasionale Park, geleer.

Hierdie werk is op 3 Mei weer in die kalklig wanneer dr. Marais en sy span vanaf 7:00 op die Facebookbladsy van Saving the Survivors lewendig die operasie vir die herstel van ‘n erg beseerde renosterwesie, Hope, gaan stroom en op vrae van Facebookgebruikers tydens die operasie sal beantwoord.

Die werk wat Marais en sy span doen, was onlangs in die nuus toe ‘n geliefde renoster, Bingo, van Sibuya Renosterstigting, nie gered kon word nie. Bingo het ‘n beenbreuk opgedoen en op ‘n rivierwal inmekaargesak. Só ‘n dier kan nie langer as ‘n uur op sy bene lê nie, want daarna begin die spiere doodgaan, verduidelik Marais. Hy het oor verskeie jare van toewyding ‘n breë verwysingsraamwerk en toegepaste kennis oor renosters opgebou. Hy is ernstig daaroor om vir elke dier se lewe, wat aan hom toevertrou word, te veg.

“Een renoster wat sterf is een te veel, ” sê Marais. Hy was een van die pioniers wat Saving the Survivors gestig het. Hierdie organisasie sonder winsbejag wil die prooi van strooptogte red. In hierdie proses het hulle al dikwels die feitlik-onmoontlike vermag. Saving the Survivors se motto is, “Om hoop uit pyn te skep”, ‘n slagspreuk waaraan een van die oorlewendes gestalte gee.

Hope, oftewel Ithemba, is die bekendste van hierdie oorlewendes. Marais en sy span het die 12 jaar oue verminkte wit renosterkoei in die Oos-Kaap na ‘n ernstige aanval gered. Sy is mettertyd nader aan Onderstepoort gebring sodat sy op ‘n gereelde grondslag behandel kon word. ‘n Paar weke gelede is sy vir die eerste keer in ‘n boma saam met ander renosters vrygelaat. Die aanvanklike prosedure om haar te red, het vier uur geduur. Vier veeartse was aan diens. Eers is ’n stuk olifantvel oor haar oopgekapte sinusholtes geplaas en later ‘n skutplaat. Hierdie metodes was ‘n verbeeldingryke benadering in die proses om ‘n hele nuwe gesig vir haar op te bou. “Hope gee ons moed. Sy is die renoster waarmee ons gewerk het met die meeste nukke en grille, maar juis dit het haar dapper laat terugveg. Haar karakter het haar deurgedra.

“Die moedige renoster het wêreldwyd ‘n lojale gevolg onder teenstropings-bewaringsbewustes. Sy het sommer gou heelwat advertensiepotensiaal vir Saving the Survivors gehad en hulle projekte wêreldwyd bekendgestel,” sê Marais. Hy sê besware word soms gelug wanneer soveel fondse aan een renoster spandeer word.

Volgens hom is elke sent wat aan die herstel van hierdie diere bestee word, die moeite werd. Dit is deel van die lang proses om kundigheid oor hulle beserings en die behandeling daarvan te verwerf.

Marais en sy span is die enigste veeartse in die wêreld wat tans chirurgiese prosedures vir renosterbeserings ontwikkel, en probeer vasstel hoe die ou grotes op narkose reageer.

“Met elke beseerde dier leer ons iets nuuts.” Dis nie net ten opsigte van wondbehandeling wat die span baanbrekersmetodes gedoen het nie. Biotegnologiese metodes soos om olifantvel op wonde te plaas, titaniumplate en kollageenbehandelings te gebruik, is ook van nuuts af ontwikkel.

Marais word as een van die wêreld se voorste renosterchirurge beskou. Sy kundigheid, veral ten opsigte van beenbreuke, is tydens sy dekade lange werk met beserings onder perde verwerf.

Dit is ‘n uitdaging om veral prosedures toe te pas waarvoor opvolgwerk nie dadelik gedoen hoef te word nie, omdat die diere vir weke in die veld losgelaat moet word. Marais glo dat bewaringsbewustes veel meer reaktief as proaktief moet optree.

Hy lê klem daarop dat daar in die 70’s nog 65 000 swartrenosters was. Vandag is daar skaars 4 000 oor. In 2014 is daar elke 11 uur ‘n renoster in Suid-Afrika doodgemaak.
“Dis ons verantwoordelikheid om hierdie toenemende renosterstroperkrisis om te draai. Ons kan nie daarin faal nie.” sê die vasberade renosterchirurg.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button