Afriforum spring in en doen dit self
Om AfriForum se nasionale slaggatmaand in Mpumalanga te begin, het dié burgerregteorganisasie op Maandag 9 Mei ’n slaggatherstelaksie in die dorp geloods.
LYDENBURG – Om AfriForum se nasionale slaggatmaand in Mpumalanga te begin, het dié burgerregteorganisasie op Maandag 9 Mei ’n slaggatherstelaksie in die dorp geloods.
Volgens mnre. Johann Weber en Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerders in Mpumalanga, wat aan stuur van dié aksie is, het die koste ongeveer R60 000 beloop.
Sowat 19 ton teer is gebruik om verskeie gate in die dorp se hoofstrate asook op die R540 tussen Lydenburg en Dullstroom te herstel.
Weber het aan Steelburger/Lydenburg Nuus gesê dat AfriForum ‘n burgerregteorganisasie is wat vir spesifiek vir hulle lede in Lydenburg optree. “Een van die probleme wat ons in die gemeenskap gekry het, is dat baie van die paaie, spesifiek die hoofpaaie in die dorpsgebied, besaai is met slaggate.
Van die gate is baie gevaarlik vir motoriste wat publieke en privaat eiendom in gevaar stel en daarom is dit as deel van die selfdoen-inisiatief geloods wat aansluit by AfriForum se nasionale slaggatmaand.”
Weber het bevestig dat hulle al voorheen die Thaba Chweu Munisipaliteit (TCM) gemaan het oor die toestand van die paaie. “Ons het aangedring dat hulle die slaggate moet herstel, maar tot op datum het hulle niks gedoen nie en dit het ons genoodsaak om self in te spring en dit te herstel. Vandag maak ons 700m² teen ‘n koste van R60 000 spesifiek in Lydenburg se dorpsgebied self, maar ook op die Lydenburg/Dullstroompad waar ons ook al die gate gaan regmaak.”
Weber het bevestig dat hulle ‘n regsdokument opgestel het teen die munisipaliteit. “Omdat hulle nie daarop gereageer het nie, gaan ons nou die kostes van hulle verhaal. As hulle ook nie ons eise uitbetaal nie, gaan ons ons waarskynlik moet wend tot die hooggeregshof om ook daardie kostes te verhaal.”
Hy het bygevoeg dat daar al mense verongeluk het. “Ek weet dat daar verlede jaar op die R36/Badfonteinpad skoolkinders was wat in ‘n ongeluk betrokke was, dus is dit ‘n erge nood in ons gemeenskap om daardie paaie se probleme op te los.”



