
MBOMBELA – Twee matriekleerders van Hoërskool Nelspruit was vanoggend omstreeks 07:00 in ‘n ongeluk op pad skool toe. Een van hulle het ernstige beserings opgedoen en is met ‘n ambulans van Netcare 911 na Mediclinic Nelspruit geneem.
Die kinders was elkeen op ‘n motorfiets van Steiltes se kant af onderweg in Ferreirastraat. ‘n Minibus taxi wou regs draai na die Village-inkopiesentrum en het na bewering voor hulle ingery.
‘n Whatsapp wat die skool uitgestuur het, lees: “Nuus van ongelukstoneel (Willie is daar). Reghardt Strydom en Damien Wills deur taxi omgery, Damien net skrape, Reghardt het baie seer gekry, maar sy toestand is stabiel, hy is oppad hospitaal toe. Kom ons bid vir spoedige herstel by beide seuns.”
Lees ook: Matriek beseer in ongeluk ná afskeid
Volgens ‘n verklaring deur Netcare 911, is Reghardt (17) se toestand kritiek. “Hy is geintubeer (pyp in sy lugpyp gesit) om hom te help asemhaal en hy is op ‘n trauma-bord vasgemaak om sy ruggraat te stabiliseer.”
Damien wou nie met ‘n ambulans hospitaal toe gaan nie, maar is glo later deur ‘n ouer gevat.
Volgens inligting van ooggetuies kon Reghardt (17) nie betyds uitswaai nie en het in die taxi vasgery. Hy is na bewering deur die agterruit van die voertuig. Damien het glo uitgeswaai en met sy motorfiets geval. Hy het skrape opgedoen.
Die toneel was omstreeks 08:00 weer opgeruim.
Lees ook:
Another biker dies in Mbombela accident
Verloofde se grootste vrees bewaarheid




