
MBOMBELA – Twee motorfietsongelukke het die naweek twee jongmans in kritieke toestande in die hospitaal laat beland.
Teen druktyd kon me. Robyn Baard, woordvoerder van Mediclinic Nelspruit bevestig dat beide Reghardt Strydom (17) en mnr. Errol Hayes (26) stabiel was in die intensiewesorgeenheid.
Hayes is Sondagaand na bewering op die hoek van Enos Mabuza-rylaan en Seringstraat in Sonheuwel deur ‘n voertuig getref. Die voorval het kort voor 22:00 gebeur.
Volgens mense op die toneel het dit voorgekom asof die voertuig, wat van West End-winkelsentrum onderweg was, regs gedraai het in Seringstraat en voor die aankomende motorfiets ingery het.
Netcare911 het in ‘n verklaring gesê dat hulle paramedici hom ‘n paar meter weg van sy fiets af aangetref het. Hy het ernstige beserings opgedoen.
Hy is geïntubeer om hom te help asemhaal en is op die toneel gestabiliseer voor hy hospitaal toe geneem is. Bronne sê hy het hoofbeserings opgedoen en sy pelvis gebreek.
Reghardt was Vrydagoggend op pad skool toe in ‘n ongeluk betrokke. Hy en nog ‘n matriekleerling aan Hoërskool Nelspruit, Damien Wills, was elkeen op ‘n motorfiets van Steiltes se kant af in Ferreirastraat onderweg. ‘n Minibustaxi het regs gedraai na die Village-inkopiesentrum en het na bewering voor hulle ingery.
- Sien die volledige berig hier: NHS-leerder kritiek ná ongeluk op pad skool toe
https://www.citizen.co.za/lowvelder/333372/nhs-leerder-kritiek-na-ongeluk-op-pad-skool-toe/
Hy het ernstige beserings opgedoen en is per ambulans hospitaal toe geneem.
Wills het glo uitgeswaai en met sy motorfiets geval. Hy het skrape opgedoen en is glo later deur ‘n ouer hospitaal toe geneem. Reghardt is geïntubeer om hom te help asemhaal en hy is op ‘n trauma-bord vasgemaak om sy ruggraat te stabiliseer.
Sy pa, Nick het gister vir Laevelder gesê dit gaan baie beter met sy seun.
“Hy het sy oë oopgemaak en reageer as ons met hom praat.”
Hy het bygevoeg dat hoewel sy rugwerwel beseer is, die murg nie beskadig is nie en dat Reghardt volle gebruik van sy ledemate het. Volgens Nick het die mediese personeel hulle egter gemaan dat die pad na volle herstel nog lank kan wees en dat hy ‘n rugstut sal moet dra om die werwel teen verdere skade te beskerm.
Hy het ook bevestig dat sy valhelm waarskynlik tydens die impak met die taxi afgekom het toe sy kop die voertuig se boonste raam getref het.
Hy het die gemeenskap, paramedici en hospitaalpersoneel bedank vir hulle sorg. “Ons is regtig geseënd om deel te wees van so ‘n goedhartige gemeenskap.”
• Minstens vyf mense is die afgelope naweek in ongelukke in en rondom Mbombela dood.
‘n Ongeluk naby Crossing Sondagoggend het die lewe van drie mense geëis. ‘n Motoris is ook dood onderweg na Malalane en ‘n motorfietsryer het gesterf in ‘n ongeluk tussen Graskop en Hazyview.
