MBOMBELA – Die skoolseun wat verlede Vrydagoggend met sy motorfiets in ‘n botsing met ‘n minibustaxi betrokke was, praat weer. Reghardt Strydom (17) se pa Nick het bevestig dat hy sedert Woensdag kan praat.
Die matriekleerling aan Hoërskool Nelspruit was onderweg skool toe, toe die taxi na bewering voor hom ingery het in Ferreirastraat.
Hy is op die toneel geïntubeer om hom te help asemhaal en hy is op ‘n traumabord vasgemaak om sy ruggraat te stabiliseer. Hy word sedertdien in Mediclinic Nelspruit behandel.
Hy het oor die naweek al sy oë oopgemaak en gereageer. Nick het Donderdagoggend bevestig dat sy seun intussen van die ventilator afgehaal is, en sy ouers herken. Hy onthou ook die ongeluk, volgens sy pa.
“Hy praat en sê hy is okay. Hy wou weet hoeveel bene hy gebreek het.” Nick het vir Laevelder gesê hy vra ook na sy skoolwerk.
“Hy kon Woensdag presies vir my sê die taxi het voor hom ingery, dit was nie sy skuld nie, maar vanoggend (Donderdag) kon hy dit nie onthou nie. Die dokters het ons gewaarsku hy sou aanvanklik maar deurmekaar wees.”
Reghardt het van sy ribbes en ‘n rugwerwel beseer, maar dit lyk nie asof hy enige operasies sal hoef te ondergaan nie. Hoewel sy rugwerwel beseer is, is die murg nie beskadig nie en Reghardt het volle gebruik van sy ledemate.
“Ons harte is verlig, en ons wil God al die eer gee dat Hy Reghardt in die palm van sy hand gehou het, en steeds hou,” het Nick in ‘n boodskap aan die skool laat weet.
Mnr. Errol Hayes (26) wat Sondagaand op die hoek van Enos Mabuza-rylaan en Seringstraat in Sonheuwel deur ‘n voertuig getref is, sou Donderdag in Mediclinic Nelspruit geopereer word.

Hayes se meisie se ma, me. Melanie Greyling, het gisteroggend aan Laevelder verduidelik dat die spesialiste optimisties is.
Hy sou ‘n operasie aan sy gewrig ondergaan, omdat dié byna vergruis is. “Dit is fyn beentjies so hulle gaan penne insit en dit met draad bymekaar trek.
“Terwyl hy onder narkose is sal die hartspesialis ook ‘n prosedure op sy beskadigde long uitvoer. As alles goed gaan sal hulle hom van die ventilator kan afhaal.”
Sy voeg by dat hy die voertuig met sy valmhelm getref het, waarna dit afgekom het, en toe het hy die pad met sy kop getref.
“Die breinchirurg sê die bloeding het gestop en die swelsel sal sak. Dit lyk nie asof daar enige permanente skade is nie.”
Hayes se ribbes is gekraak, sowel as sy pelvis en twee rugwerwels, maar na wat verneem word is dit nie ernstig genoeg om selfs die dra van ‘n stut te noodsaak nie.
Greyling het bygevoeg dat hy deurmekaar en nog verdoof is, maar hy kon al sy oë kom oopmaak en mense se hande druk.
Sy suster, me. Erroldene Hayes Goosen, het Donderdag van hulle tuisdorp Port Elizabeth vertrek om hom te kom bystaan.
