LifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Egpaar wys vandag se getroudes dit kán werk

Dit is egter nie die geval vir oom Chris (86) en tannie Bessie Potgieter (83) nie. Dié paartjie deel al immers 65 jaar se somers saam.

LYDENBURG – Daar is ‘n Sweedse spreekwoord wat lui: “‘n Lewe sonder liefde, is soos ‘n jaar sonder ‘n somer.”

Dit is egter nie die geval vir oom Chris (86) en tannie Bessie Potgieter (83) nie. Dié paartjie deel al immers 65 jaar se somers saam. Hulle het iets reggekry wat in die hedendaagse lewe baie skaars is – die viering van hulle diamanthuweliksjaar op 2 Junie.

Volgens oom Chris is daar nie ‘n resep vir so ‘n lang huwelik nie. “Jy moet net uithou en aanhou.” Tannie Bessie val hom egter in die rede: “Aanhou en bekhou!”

Die egpaar bly al die afgelope 20 jaar in Lydenburg. Oom Chris het 44 jaar as bosbouer vir Sappi, naby Hazyview, gewerk. Die paartjie was as kinders saam op skool. “Dit was ‘n ou klein skooltjie op Tweefontein. Ons was almal maar bosbouwerkers se kinders. Later is Chris ambagskool toe en ek is huishoudskool toe. Ons ouers het naby mekaar gewoon.”

Tannie Bessie vertel dat dit nie soos vandag se dae was nie. “Ons jongklomp het saans kennetjie en vroteier in die straat gespeel terwyl die oumense op die stoep gesit het. Toe het ons nou maar mettertyd saam met mekaar gespeel en so het dit toe nou maar aangegaan.”

Oom Chris vertel dat hulle in 1951 op Sabie getroud is. Tannie Bessie vertel dat iemand op ‘n dag vir hulle gesê het dat hulle mekaar spasie moet gun. “‘n Mens dink nie daaraan nie. Hy gaan byvoorbeeld vroeg slaap en ek kom nie voor middernag in die bed nie. In die oggende is hy vroeg op en sal hy vir my tee bring. Ek sal dan nog in die bed hekel of brei en eers so 08:30 beginne roer.”

Tannie Bessie is baie lief vir handwerk en op 83 jaar staan haar hande steeds vir niks verkeerd nie. Sy wys trots van haar mosaïekwerk wat teen die mure pryk en dit doen sy waaragtig nog sonder ‘n bril.

Hulle het drie kinders. Kleinkinders? “Moenie vra nie!” sê oom Chris vinnig. “Daar is agterkleinkinders ook,” las tannie Bessie by. “Ag, nee wat, dis lekker tye. Dit was altyd nog ‘n lekker tyd,” meen oom Chris.

Volgens tannie Bessie is dit net soveel ‘n voorreg as ‘n seën van die Here om so lank vir mekaar gespaar te kon word. “Dit is nie ons wat dit bemagtig het nie. Ons is maar net gelukkig en gesond.”

Oom Chris is in Wolmaransstad gebore en tannie Bessie in die Kalahari. Tannie Bessie se ouers het met ‘n groot droogte alles verloor en so het hulle in bosbou beland. “Ons ouers het twee huise uitmekaar gebly. Maar daai jare het ons ons nie aan mekaar gesteur nie.”

Daar was egter ‘n pad om te kies in die lewe en die een wat hulle gekies het, is saam met mekaar.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button