Aggie Coetzer word onthou
Haar kunswerke hang vandag nog in Laerskool Bergland se skoolsaal.
MBOMBELA – Die vrou wat Laerskool Bergland se skoolwapen ontwerp het, se lewe het die leuse wat sy daarmeesaam uitgedink het, beliggaam. Die skool se leuse, “bou op rots” het me. Aggie Coetzer se leefwyse beskryf, het dié wat haar goed geken het Donderdag aan Laevelder gesê.
Coetzer is op 27 Mei op die ouderdom van 90 oorlede. Haar afsterwe het baie inwoners laat terugdink aan vroeër jare, toe sy ‘n sleutelfiguur in die omgewing was. Sy was ‘n onderwyser, twee keer burgemeestersvrou en het diep in die onderwysers, leerlinge en ouers verbonde aan Laerskool Bergland, se harte ingekruip.
Haar man, mnr. Frans Coetzer, was die skool se eerste hoof toe dit in Januarie 1970 gestig is. Haar seun, Pierre, het aan Laevelder gesê dat sy ouers in 1955 van Brakpan af na Sabie toe verhuis het, waar hulle as onderwysers gewerk het. Van daar is hulle na Witrivier en Barberton voor Frans in 1969 genader is om aan die hoof van die stad se tweede Afrikaanse laerskool te staan.
Terwyl Pierre, ‘n onderwyser, Laevelder in sy kantoor by die skool te woord gestaan het, het hy nog ‘n herinnering gekoester: “Toe my pa nog hoof was, sou my ma soms in pousetyd skool toe kom met eetgoed wat die winterkoue so ‘n bietjie kon verdryf. Soms was dit sop en ander kere het sy vir die personeel pannekoek gebak.” Beide Frans en Aggie was gewaardeerde mentors vir die wat onder hulle gewerk en geleer het.
Ou inwoners het haar as nederig beskryf. Vir Pierre was dit een van sy ma se mees kosbare eienskappe. “Godsdiens het ‘n groot rol in haar lewe gespeel,” het hy gesê. “Sy het ‘n diep, uitgebreide kennis van die Bybel gehad.” Aggie het, volgens oorlewering, Bybels in verskeie tale soos Khoza, Zulu en Sepedi gehad en dit saam met traktaatjies by motorhawens uitgedeel.
Toe sy in die ’80s en ’90s twee keer die burgemeestersvrou was, het haar nederige manier van doen en vriendelikheid baie mense geraak. Dat daar by haar geen voorgee of ‘n sin van haar eie belangrikheid was nie, het die dorp se mense opgeval en bygebly.
Sy en Frans het na sy aftrede in 1986 in die stad bly woon. Hy is in 2000 oorlede en sy sou nog vir meer as ‘n dekade steeds ‘n verskil in baie lewens maak.
“Die voorbeeld wat sy gestel het, het ‘n groot positiewe invloed gehad op die mense met wie sy te doen gekry het,” het Pierre gesê. Haar God-georiënteerde manier van lewe bly hom steeds by. “Wanneer iemand halsoorkop in ‘n ding wou spring, sou sy altyd eers vra: ‘my kindjie, het jy nou al hieroor gebid?'” het hy onthou. “Wat sy gesê het, het sy geleef. Sy het haarself beskikbaar gestel as ‘n instrument in God se hand. Só kon sy van haarself vir ander gee – nie in rand en sent nie, maar in kennis en omgee,” het hy gesê.
Daar hang vandag nog van Aggie se kunswerke in Bergland se skoolsaal.
Twee skilderye van aalwyne, wat ook die plante op die skoolwapen is, hang weerskante van die verhoog. Die skoolwapen wat sy ontwerp het pryk trots op dié skool se drag. Haar skeppings is egter nie tot ons stad beperk nie. Die naam Aggie Coetzer sal landswyd ‘n klokkie lui – haar skilderye hang immers in huise regoor Suid-Afrika.
Vir dié wat haar hier leer ken en liefgehad het, sal die lesse wat sy geleef het nog vir jare bybly. Dit én haar kosbare kunswerke teen die muur.

