Hard newsLocal newsNews

Droogte dwing wildtuin om diere van kant te maak

Die ergste droogte, dalk erger as 1991/2, dwing die Krugerwildtuin om diere uit te dun omdat weiding skaars is.

SKUKUZA – Die heersende droogte het die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) op sy knieë. Hulle het reeds begin om seekoeie en buffels – grasvreters wat die meeste onder die droogte ly – van kant te maak en sal ook vir die eerste keer in jare geen voorbrande maak nie.

Daar is 59 seekoeie van kant gemaak en ‘n verdere 100 sal na verwagting later vanjaar geskiet word, asook 200 buffels. Daar is 8 000 seekoeie in die wildtuin waarvan 300 reeds gevrek het as gevolg van die droogte. In 1970 was daar 20 000 buffels in die NKW; nou is daar 40 000. Die vleis gaan aan wildtuinpersoneel verkoop word.

Me. Navashni Govender, senior hoofbestuurder van bewaring in die NKW en brand-ekoloog, het uitgebrei oor SANParke se besluit om nié voorbrande te maak nie: “Die reël waarvolgens ons dit bepaal het, is eenvoudig: minder reën, minder weiding, minder veiligheidsbrande.”  SANParke se bestuur is bekommerd oor die beskikbare water, maar dit is veral die groenheidsindeks van die veld wat hulle kwel.

Riviere is voller as in 1991/92, die jaar van die wildtuin se ergste droogte ooit. Van Julie verlede jaar tot Februarie vanjaar was die reënvalsyfer laer as in 1991/92.

“Daar is te min brandstof en energiekos in die veld beskikbaar. Hierdie droogte het ‘n veel erger uitwerking op die kwaliteit van die gras as in 1992. Ons verwag ‘n groot aantal vrektes veral aan die einde van die winter. Blaarvreters soos olifante en kameelperde gaan wel makliker oorleef. Dis die grasvreters soos die bokke wat sal uitsterf,” het Govender uitgewys.

Die beskikbare hoeveelheid weiding is 66 persent minder as in 1992.

Die droogte is nog nie gebreek nie, al het dit onlangs gereën. Govender het daarop gewys dat die onlangse reën nie genoeg was om die veld te laat herstel nie want die groeiseisoen is reeds verby. Die temperature van hierdie droogte is erger as voriges en volgens Govender speel klimaatsverandering ‘n besliste rol.

Van Julie 1991 tot Maart 1992 was daar sewe dae wat die kwik bo 40 grade Celsius gestyg het, terwyl in die ooreenstemmende tyd in 2015/16, daar 28 sulke dae was.

Die droogte het ‘n besliste invloed op die beweging van diere in die wildtuin en dit is nie vergesog om te dink dat hulle gaan wil uitbreek in ‘n soektog vir groener weivelde nie. Daar het reeds die afgelope paar weke verskeie diere uit private reservate rondom Hoedspruit uitgebreek om weiding te soek.

“Droogte kan positief wees. Dit neem die swak diere uit die kringloop van die natuur. Karnivore vang ook uitgeteerde diere. Die droogte is ‘n filter wat die stelsel oorhaal vir ‘n nuwe leeftyd.”

Vir tyd en wel is die vooruitsigte egter nie goed nie, volgens Govender. “Ons verwag dat omstandighede gaan versleg. Die somerweiding gaan nie goed wees nie.”

“Uiterse voorvalle in die weer soos hierdie droogte kom al hoe meer voor. Klimaatsverandering is besig om sy tol te eis,” het sy beklemtoon.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button