FeaturesLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Die nostalgie van pen op papier

Wanneer laas het jy ‘n brief geskryf of ontvang? Ons praat nou nie van 'n e-pos of SMS’e nie, die ware jakob: ‘n handgeskrewe brief?

LYDENBURG – Wanneer laas het jy ‘n brief geskryf of ontvang? Ons praat nou nie van ‘n e-pos of SMS’e nie, die ware jakob: ‘n handgeskrewe brief?

Met modern tegnologie het die nostalgie van briefskrywery bykans heeltemal verlore gegaan. Die uitsien na ‘n brief wat eers moontlik oor ‘n week of selfs twee sal aanland, die bekyk van die handgeskrewe adres om te raai wie dit geskryf het voor jy die koevert omdraai vir die leidraad, of een met so titseltjie parfuum wat gepos word tussen verliefdes, is verby.

Min mense weet egter dat ons hier, op ons voorstoep, nog met een van die oudste werkende posbusse kan spog. Die een in Langestraat by NG Moedergemeente is een van die vroegste voorbeelde van pilaar-posbusse wat van Nederland deur die posmeester-generaal van Suid-Afrika bestel is.

Hierdie boks is in 1893 by Pletterij den Haag gemaak en in 1895 in die dorp opgerig. Dit het voorheen naby die Burgermonument gestaan, maar is in 1975 na sy huidige posisie verskuif. In 1979 is dit as ‘n nasionale momument verklaar. Die eerste posdiens by wyse van perdekar was reeds in 1850 in dié distrik in werking.

Vir pres. Willem Cornelis Janse(n) van Rensburg (1818-1865) was dit ‘n ernstige taak om ‘n posdiens in die omgewing te vestig. In 1850 is Janse(n) van Rensburg op 32-jarige ouderdom tot die Volksraad verkies vir die wyk Agter-Magaliesberg waar Louis van Wyk veldkornet was. Een van die eerste dinge waarmee hy te doene gekry het was, “om eene vaste brieven post aan te laten stellen” tussen Lydenburg en Potchefstroom. Hy was die man wat dit moes reël.

Die heel eerste “posdiens” wat ‘n poskantoor nageboots het, dateer terug na 20 September 1848 toe die Volksraad-sitting by Ohrigstad besluit het om “posjoggies” aan te stel om die amptelike pos te vervoer. Voorheen was daar ‘n totale leemte van enige georganiseerde posdiensgeriewe en die aflewering van briewe was afhanklik van reisigers of die sogenaamde “posjoggies”.

Die Volksraad-sitting in Lydenburg het op 27 Mei 1850 besluit om ‘n gereelde posdiens tussen Lydenburg en Potchefstroom via Renosterspruit en Suikerbosrand in werking te stel. Die kostes verbonde aan dié diens is deur bydraes in stand gehou. Diegene wat nie bydraes gelewer het nie, moes ‘n sekere bedrag betaal om van die posdiens gebruik te maak.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button