Man vind sy passie in staalkuns
BURGERSFORT – Staalwerk sit nie in elke man se broek nie, maar vir Gert Myburgh is dit meer as net ‘n stokperdjie, dit is ‘n passie. As 15-jarige seun het hy reeds begin om as ‘n smid in Kimberley te werk en dit is waar hy in kontak met staalwerk gekom het. Hy het intussen …
BURGERSFORT – Staalwerk sit nie in elke man se broek nie, maar vir Gert Myburgh is dit meer as net ‘n stokperdjie, dit is ‘n passie.
As 15-jarige seun het hy reeds begin om as ‘n smid in Kimberley te werk en dit is waar hy in kontak met staalwerk gekom het. Hy het intussen verskeie ambagte soos ketelmaker, passer-en-draaier en motorwerktuigkunde voltooi.
Myburgh vertel hoe hy – wat vandag bekend staan as Ferrochrome Bricks in Steelpoort – met sy eie hande gebou het saam met ‘n handjievol werkers. Dit is waar hy sy kreatiwiteit in staal deur die bemoediging en ondersteuning van sy kollegas gevind het en steeds werk.
“‘n Paar maande gelede moes ek vir my bestuurder ‘n stuk staal kleiner sny. Ek kyk toe na die afvalstukkies wat rondlê en laat my verbeelding oorneem om my eerste kunswerk daaruit te skep. Dit was ‘n abstrakte kunswerk, en ook my eerste drie-dimensionele kunswerk wat ek voltooi het,” vertel Myburgh.
“Almal was gaande daaroor en het vir my vertel dat ek ‘n versteekte talent in my het.”
Sy kollega, Bianca Pheasant, sê dat sy nog nooit iets so mooi gesien het wat uit niks gemaak is nie.
Die versoeke het begin instroom en hy het intussen vir die Volle Evangelie Kerk twee metaalspaarbussies gemaak, elkeen met sy eie unieke karakter.
Hy het ook begin eksperimenteer met die uitbeelding van diere en dit in houtrame geplaas.
Myburgh glo dat daar vandag geen beperking aan sy verbeelding is nie. So groot as wat iets in sy verbeelding is, kan hy enigiets in ‘n kunswerk omskep.
