Local newsNews

Vier jou taal by Pretoria se eerste Afrikaanse kunstefees

Bou saam aan die voortbestaan van die taal en kom geniet die grootste Afrikaanse musiekmakietie in Gauteng.

“Dis die taal waarin ons groet. Die taal is in ons bloed. Dis Afrikaans vir ons mense…” Dit is net ’n paar hoendervleismooi lirieke uit die hoof-feeslied wat eersdaag, deur van die gewildste Afrikaanse kunstenaars in die land, opgevoer gaan word tydens die eerste amptelike FAK Musiekfees wat hierdie Augustus in Pretoria afskop.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met SA Expo Feesgids, bou voort op die sukses van groot kuier- en kultuurfeeste – soos KKNK, Innibos en Aardklop – en loods op 19 en 20 Augustus 2016 die eerste jaarlikse FAK Kunstefees, wat voortaan in Gauteng gaan nesskop.

“Alhoewel Afrikaans dikwels onder die spervuur is, is dit ook ’n taal wat aanhou groei en regoor die wêreld gepraat word. Pretoria is een van die grootste Afrikaanse stede ter wêreld en dus die ideale tuiste vir ’n fees wat daarop gaan fokus om hierdie inheemse taal te bou,” sê feesorganiseerder, Johan Yssel.

Lees meer: Skrywer vind vreugde in ander se verhale

“Afrikaanse feeste, wat reg bestuur word, bars uit hulle nate. Afrikaanssprekendes is vrolike mense wat hou van kuier waar hulle taal ter sprake is. Daarom skep ons graag meer sulke geleenthede deur feeste nader aan dié mense te bring. Dit is dus hoog tyd dat Gauteng ook ’n lekker groot Afrikaanse fees kry.”

Die terrein van die kultuurryke Voortrekkermonument dien as die hartklop van hierdie feestelike geleentheid, is sentraal geleë en het genoeg spasie om duisende mense met gemak te hanteer. Een honderd en vyftig spesiale uitstallers – wat kuns- en kosstalletjies, bier- en wynareas en kindervermaak insluit – gaan van die begin af deel wees van die pret. Natuurbewustheidsprogramme, wat slang- en roofvoëlvertonings insluit, is ook deel van die program.

Feeshekke gaan elke oggend van 09:00 af oop wees en teen 10:00 sal die eerste vertonings op die dagverhoog begin. Feesgangers kan daarna uitsien om gedurende die dag vermaak te word deur kunstenaars soos Armand – The Singing Cowboy met sy dansende perd, Izaan, Marius Dippenaar, Jason, Ronaldo, Maryna Knoesen en vele meer. Saterdag sal daar ook ’n spesiale koorfees wees waaraan sowat ’n duisend kinders gaan deelneem.

Lees ook: Nuwe rolprent oor die lewe se kruispaaie bied Eintlik Nogal Baie stof tot nadenke

“Koor-organiseerder, Natasha Smidt, het baie moeite gedoen om te verseker dat die beste kore deel is van hierdie geleentheid. Die wen-kore van verlede jaar se Sing in Harmonie-kompetisie op kykNET, laerskole Voorpos, Pierneef, Stephanus Roos en Anton van Wouw, is deel van die program. Laerskole Menlo Park, Voorpos en Stephanus Roos bring ook elkeen hulle junior- en senior-kore saam,” sê Johan.

Jezelle se enkelsnit, Vir Ons Mense, sal die amptelike feeslied wees waaraan al die kunstenaars en ’n massakoor gaan deelneem tydens die hoofkonsert. Die liedjie is reeds wêreldwyd, op iTunes en ander musiekplatvorms, beskikbaar en die musiekvideo word eerskomende Saterdag eksklusief op kykNET se Jukebox bekendgestel.

Kaartjies is nou beskikbaar. Besoek www.fakmusiekfees.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button