Geniet ‘n aand vol nostalgie
Barnard gaan op 9 September om 19:00 by die De Ark Gastehuis verskeie gedigte van die legendariese Ingrid Jonker, wat sy getoonset het, sing.
LYDENBURG – Lizanne Barnard, pianis, toonsetter, sangeres en musiekskrywer, is ‘n lopende kunswerk.
Barnard gaan op 9 September om 19:00 by die De Ark Gastehuis verskeie gedigte van die legendariese Ingrid Jonker, wat sy getoonset het, sing.
Lydenburgers kan maar hulle vere regskud vir ‘n nostalgiese vertoning uit die boonste rakke.
Die opvoering, Poppemeester, is ‘n huldeblyk aan Jonker wat mitiese status bereik het met haar Afrikaanse digkuns.
Volgens Barnard gaan die opvoering uitsluitlik oor die stringpop wat aan die genade van die poppemeester onderworpe is.
“Die poppemeester is die lewe wat met ons woer-woer speel as ons nie mooi weet wie ons is nie. Dit is ‘n tema wat eintlik nog baie meer in die opvoering ontwikkel kon word.”
Barnard vertel dat haar passie vir Jonker se werk ontstaan het na sy so 20 jaar gelede as lid van Marimba saam met Lorinda Meyer en in samewerking met RSG ‘n opvoering oor die digter se werk gehou het.
“Ons moes toonsette van haar gedigte maak en ek het net daar en dan verlief geraak op haar. Daar is baie raakpunte. Ek kon myself absoluut met haar vereenselwig in baie aspekte van haar persoonlikheid en lewe.
“Ek verstaan haar net. Ek raak dié dinge aan in my opvoering. Van kleins af was my ma baie lief vir gedigte en het sy die liefde van digkuns by ons wakker gemaak.”
Barnard is ook ‘n oudinwoner van die dorp. Sy en haar gesin het in die eertydse gerestoureerde Lydenburg-fliekteater in Rensburgstraat waar die Gemeente van Christus Kerk nou is, gewoon.
“Ons het ook in verskeie boshuise gebly voor ons na die teater-huis verhuis het. Ons het verskillende opvoerings daar gedoen met onder andere Jannie du Toit en Christa Steyn, net voor haar dood. Ons het later na Nelspruit verhuis.”
Moenie dié opvoering misloop nie. Kaartjies vir Barnard se vertoning kos R160 en sluit sop en sjerrie in. Skoolkinders betaal net R100.
Besprekings: De Ark by
013-235-1125.
