Editor's choiceHard newsNewsNews

Motorongeluk eis die lewens van twee geliefdes

Die vermoede bestaan dat die egpaar ‘n gladde, gelapte stuk van dié pad om ‘n draai getref en beheer oor die voertuig verloor het.

LYDENBURG – “Ons was baie lief vir my ouers, hulle was lief vir ons en ons weet die Here het hulle lief.” Dit was me. Izelle Struwig (26) se woorde aan Steelburger/Lydenburg Nuus nadat haar ouers Sondag op slag dood is.

Hulle Isuzu-dubbelkajuitbakkie het op die Frischgewaagd-pad ongeveer drie kilometer uit die dorp gerol. Dit is nie seker wat aanleiding tot die ongeluk gegee het nie, maar volgens plaaslike Hazmat-operateur, mnr. Deon Broekman, is beide mnr. Hendrik (51) en me. Estelle Herbst (46) tydens die impak moontlik uit hul bakkie se sondak geslinger.

Die vermoede bestaan dat die egpaar ‘n gladde, gelapte stuk van dié pad om ‘n draai getref en beheer oor die voertuig verloor het. Dit blyk uit meters se briekmerke dat Hendrik wel gepoog het om die voertuig onder beheer te kry. ‘n Ooggetuie het gesê dat hy ook al op dieselfde stuk pad byna beheer oor die trok wat hy bestuur het, verloor het.

Die Herbste het op ‘n plaas in Frischgewaagdomgewing gebly. Struwig meen dat hulle nie seker is waarheen haar ouers op pad was toe die ongeluk plaasgevind het. “My ouers was versorgers. Hulle huis was altyd oop vir enigiemand en hulle het altyd gehelp waar hulle kon. Maak nie saak hoe jy lyk of wie of wat jy was nie, as jy by hulle aangekom het, is jy verwelkom. As iemand iets nodig gehad het, het hulle altyd planne gemaak om te help. Hulle harte was besonders groot.”

Die oorledenes was op 3 Mei vanjaar 30 jaar getroud. “Hulle was mekaar se steunpilare. My ouers was baie lief vir mekaar en hulle was baie geliefd.” Die egpaar het vir die afgelope ses jaar in Lydenburg gebly. Hendrik het vir Murray en Roberts op die Booysendal-myn buite die dorp gewerk, waar Struwig se man, Gawie, ook werk. Struwig is besig met haar studies as tandartstoelassistent en werk by dr. Maureen Kritzinger. Haar suster, me. Hennieta Grové (24) is getroud en bly in Rustenburg.

Die Struwigs wil graag almal vir hulle ondersteuning en bystand bedank tydens die afsterwe van haar ouers. Die begrafnis is Saterdag om 10:00 by die Lydenburgbegraafplaas. ‘n Gedenkdiens sal na die begrafnis by Lewende Woord Kerk langs Laske Nakke gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button