MBOMBELA – Met ys, ja. Dít is hoe ‘n mens jou bomme vervoer.
Dit blyk uit die dossierinhoud in die saak teen ‘n 40-jarige man wat Dinsdag in die Nelspruit Landdroshof verskyn het. Hy is van die onwettige berging van plofstowwe aangekla.
Lees ook: Lees die “staatsgreep verslag” hier
Polisiewoordvoerder, kapt. Dawie Pretorius het aan Laevelder verduidelik wat aanleiding tot die man se arres gegee het. “Sers. Christi Botha het inligting ontvang dat daar ‘n verdagte met ‘n plofbare toestel naby Halls Gateway se vulstasie gesien is. Dit was om 12:40,” het Pretorius gesê.

Daar aangekom, het Botha vir mnr. Charles Hlambiso met ‘n koelboks vol ys aangetref. Onder die ys was daar, aldus haar beëdigde verklaring, twee mortierbomme. “Beide was sonder vinne,” het Pretorius verduidelik.

Beide bomme het TNT bevat. Een van die toestelle se plofkop was boonop afgesny, wat dit hoogs plofbaar gemaak het.
Die toestelle kon weens hul plofbaarheid nie vervoer word nie, en Botha het ‘n veilige plek geïdentifiseer om die plofstof onskadelik te maak.
“Dit is vernietig,” het Pretorius gesê.
Lees ook: Dr Mathews Phosa oor die Shaun Abrahams debakel
Hlambiso sal in aanhouding bly, totdat hy weer op 8 November in die hof moet verskyn.
