Diereredder sorg vir nuwe technowapen teen stropers
Televisiester en skrywer, Eugene Cussons, het 'n nuwe wapen teen antistroping saam met Tsjeggo Slowaakse vennote ontwikkel wat 'n bende stropers maklik uitmekaar kan laat spat.

BARBERTON – Eugene Cussons (38) het tydens die redding van sjimpansees in die reënwoude as direkteur van die skuiling, Chimp Eden, vele jare gelede moeg opgekyk na ‘n enjingedrewe valskermswerwer wat bo-oor die hoë bome gevlieg het.
Die loods het vir hom gewuif en hulle het oogkontak gemaak. Die saadjie is toe in sy gemoed geplant dat kragvalskermsweef die antwoord op vele bewaringsprobleme kon wees.
Hy het daarna begin ondersoek instel. Vandeesweek is die vrug van hierdie toewyding, ‘n antistropings-kragvalskermswewer, bekendgestel.

Cussons ken die gevoel goed om een gladweg in die lug te laat opstyg. Dis reeds vier jaar wat die produk verfyn word.
“Dis ‘n ongelooflike gevoel. Ek dink telkens as ‘n arend of ‘n valk so paar meter van my vlieg en na my kyk, en ek na hom kyk, dis die rouste vorm van harmonie. Dit gee my nog elke keer hoendervleis.”
Cussons, ook skrywer van die boek Saving Chimpanzees, en stigterslid van Chimp Eden, het in ‘n stadium heel mismoedig gevoel dat hy “die hele tyd van die agtervoet werk”.
“Ek moes erken vir elke babasjimpansee wat ons red, word 15 doodgemaak. Ek het besef ons het nuwe tegnologie nodig indien ons in die bewaringswêreld ‘n verskil wil maak. Ons grootste uitdaging as dierebeskermers is om ‘n metode te vind om wildstropers te uitoorlê. Tegnologie is ‘n magtige wapen om dit mee reg te kry,” meen hy.
As opgeleide helikopter- en vliegtuigloods het die voormalige televisie-aanbieder van Animal Planet’s Escape to Chimp Eden, begin glo doeltreffende stroping moet ook vanuit die lug gedoen word.
“Maar eers sou ons dit goedkoper moes maak en veldwagters moet kan toerus en oplei.”
Kragvalskermsweef was vir Cussons ‘n pasgemaakte oplossing. “Vanuit ‘n kragvalskermswerwer kan jy diere op die grond identifiseer. Jy kan ook stropers agternasit totdat grondspanne opdaag. Omdat jy nie in ‘n toe kajuit sit nie, het jy ook oor ‘n groter area besigtiging. Ons kan tot ‘n spoor op die grond met ons toerusting raaksien en foto’s daarvan of van diere onmiddellik aan die grondspan of aan veeartse stuur indien diere beseer is.”

Met Cussons se samewerking het ‘n Tsjeggo-Slowaakse vervaardiger begin om sy kragvalskermswewers aan te pas vir omstandighede in Afrika.
“Ons wou ‘n unieke oplossing vind. Vreemd genoeg word die diere nie afgeskrik deur die lawaai van die masjien of die vlerkswewers nie. Net bobbejane kry vinnig koers as hulle dit sien!”
‘n Paar weke gelede het die lakmoestoets gekom nadat al die nodige verstellings aangebring is. Die buitelandse vervaardigers is saam met hom na die Manyeleti-reservaat aangrensend tot die Nasionale Krugerwildtuin (NKW).
“Ons vlieg nou al twee jaar die spesifieke kragvalskermswewer by name Nirvana Ranger, maar het dit eers vandeesweek geloods toe ons tevrede was veldwagters sal ook vuurwapens gemaklik in die lug kan dra en gebruik.”
Hy het al tydens die vervaardiger se besoek twee keer die geleentheid gehad om die werking te demonstreer toe wildstropers gejaag moes word.
Die valskermswewer word ook deur boere vir sekuriteitsdoeleindes gebruik soos om grensdrade te patrolleer teen net drie liter petrol per uur.
Die opleiding is eenvoudig. Die meeste vlieëniers van die swewers kry binne ses dae hul lisensies.
Vir boere is die voordeel dat jy nie aan ‘n vliegveld gebonde is nie. Cussons en sy span het reeds 40 boere lugwaardig gemaak met ‘n valskermswewer wat vir boerderydoeleindes aangepas is. Dit het selfs ‘n boer van 145kg die lug ingekry.
Wanneer dit by antistroping gebruik word, word verskeie tegnieke teen die renosterdiewe gebruik.

“Die meeste van tyd gebruik ons ‘n swermformasie. Ons vlieg as ‘n span in die area en sirkel laer en hoër om groter besigtiging te kry. Dis vreesaanjaend vir die stropers. Hulle gooi als neer en hardloop weg.”
Elke valskermswerwer dra ‘n koeëlvaste baadjie om hom teen stroperskote beskerm. Daar is selfone daaraan gemonteer. Grondspanne kan nadergeroep word terwyl die stroper vanuit die lug gevolg word. Die opsie bestaan ook dat hy self kan land en die stroper agternasit.
Net soos met die ontwerp en vervaardiging hiervan, was die spanwerk vir hom ‘n hoogtepunt is.
“Wildstropery het nie een unieke oplossing nie, maar die samewerking en kombinasie van tegnologie, opgeleide wildbewaarders, honde en lugoplossings sowel as die regte inligting om op te reageer, kan ons ‘n voorsprong gee. Dis hierdie voorsprong wat die sukses sal meebring.”
Waarom kragvalskermsweef ‘n goeie wapen teen stropers is
Die kragvalskermswewer is volledig uitgetoets in die omgewing van Barberton maar ook in verskeie natuurreservate in die omgewing van die Nasionale Krugerwildtuin.

