Bejaarde aangerand tydens plaasaanval
Hy bly alleen by dié huis na sy vrou se afsterwe ongeveer vyf maande gelede.

LYDENBURG – ‘n 73-jarige man van Potloodspruit is gisteraand by sy plaashuis ongeveer vyf kilometer buite die dorp op die Ohrigstadpad aangerand.
Mnr. Johan Prinsloo is na wat verneem word, gisteraand omstreeks 09:00 oorrompel in sy huis en is eers vanoggend deur ‘n vriend gekry.
Prinsloo het gisteraand glo met die einste vriend by sy huis gebraai voor die voorval plaasgevind het. Hy bly alleen in dié huis na sy vrou se afsterwe ongeveer vyf maande gelede. Na sy vriend vertrek het, het ‘n onbekende getal aanvallers hom gepak, ‘n sak oor sy kop getrek, sy hande vasgebind en aangerand.
Die verdagtes het met sy .22-pistool en 2006 Isuzu-bakkie met registrasienommer BB 69 SGGP gevlug. Die bakkie het swart traliewerk agterop. Mnr. Deon Broekman van N3 Rapid Response was van die eerstes op die toneel. Netcare 911 het Prinsloo vir behandeling na die mediese sentrum gehaas.
Prinsloo verkoop groente in die dorp vir ‘n inkomste. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.
