Bejaarde vertel van sy elf uur lange nagmerrie
Die stoel het met die skuiwery gebreek en ek het met my rug op die stukkende stoel en met my skouer op die teëls geval.

LYDENBURG – “Daar het ek gelê van 21:00 die aand tot 08:15 die volgende oggend. Elf ure het ek so gelê.” Só vertel die 73-jarige Johan Prinsloo van Potloodspruit oor sy aanranding verlede Vrydagaand by sy plaashuis ongeveer vyf kilometer buite die dorp op die Ohrigstadpad.
Prinsloo is Vrydag omstreeks 20:15 in sy huis aangeval en is eers die volgende oggend deur sy vriend, Adriaan Horn, ontdek. Prinsloo bly na sy vrou se afsterwe verlede jaar alleen op die plaas. Steelburger/Lydenburg Nuus het met hom gepraat oor wat presies gebeur het. Hy het aan die koerant vertel dat hy en Horn Vrydag vleis gebraai het.
Prinsloo vertel dat Horn omstreeks 20:15 vertrek het. “Toe hy ry, het ek nog cheers vir hom gewys. My slot en sleutels was ongeveer twee meter van my af in die huis en ek het dit gaan haal. “Toe ek die traliedeur sluit, het hulle my van agter met iets oor die kop geslaan en geblinddoek. Hulle het my hande agter my rug met kabelstroppe en my bene aan die voorpote van ‘n stoel vasgebind.”
Prinsloo weet nie hoe sy aanvallers in die huis gekom en hoeveel hulle was nie. Hulle het die hele tyd gevra hoeveel geld hy in die bank het. “Ek het vir hulle gesê bykans niks. Hulle het my bankkaart se kode gevra. Ek moes seker vir hulle die verkeerde een gegee het, want hulle het niks getrek nie.” Die boewe het Prinsloo in sy badkamer ingestoot en die huis geplunder. Hulle is weg met sy .22-pistool, 2006 Isuzu-bakkie met registrasienommer BB 69 SGGP, kraggereedskap en sy beursie met ongeveer R300 kontant daarin.
“Toe hulle weg is, het ek tot by die naaste venster probeer skuif om my neef, wat ongeveer 300 meter verder in ‘n ander huis bly, te probeer roep. Die stoel het met die skuiwery gebreek en ek het met my rug op die stukkende stoel en met my skouer op die teëls geval. Daar het ek vir elf uur lank gelê.” Was dit nie vir Horn wat die Saterdagoggend by sy huis opgedaag het nie, weet hy nie wat sou gebeur het nie.
“Adriaan het dadelik die polisie en nooddienste gebel. Hulle was binne minute op die toneel en het my na die mediese sentrum geneem. My hande was pikswart omdat die bloedtoevoer afgesny was. Dit het genadiglik reggekom.” Prinsloo is terug op die plaas en slaap nou saans by sy neef oor. “Ek wil uitkyk vir ‘n middeljarige man wat bereid sal wees om moontlik saam met my op die plaas te bly. Ek gaan aanbly op die plaas. Dit kan enige plek gebeur.”
Hy bly al 20 jaar op die plaas en is sedert 1984 in die Lydenburgomgewing. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie. Skakel kapt. Fannie Mashele by 076-368-1141 vir enige inligting
