Hard newsLocal newsNews

VIDEO: Hondeheld gegaffel deur koedoe terug by wildtuinwerk

Dis nie elke hond wat opstaan na 'n koedoe haar gegaffel het nie. Akita, hondeheld van die wildtuin, is amper reeds reg om weer stropers plat te trek na haar noue ontkoming met 'n aanstormende koedoebul in Letaba.

SKUKUZA – ‘n Beseerde hondeheld van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) se K9-eenheid, Akita, het die afgelope weke die harte van menige honde- en wildtuinliefhebber gesteel.

Johan de Beer, bestuurder van die NKW se K9-Eenheid, is trots op hoe vinnig sy herstel het. Akita is die sewe jaar oue Malinois-hond van die eenheid wat ‘n tydjie gelede tydens patrollie in Letaba met ‘n koedoebul kragte gemeet het.

Paramedikus Jaco Gerritse het ingespring om Akita se lewe te red nadat sy tydens patrollie deur ‘n koedoebul gegaffel is.

Akita is sedert 2012 in Letaba werksaam en is ‘n trotse lid van die groep van vier honde wat hier werk.

Tydens ‘n soektog te voet na stropers, het sy omtrent 10m vooruit gedraf.

Na die onlangse reën is die riviere oorgroei met heuphoogte bosse. ‘n Troppie koedoes het midde-in so ‘n klompie bosse gelê. ‘n Bul het opgestaan toe hy die hond deur die bosse sien spoorsny, en het gestorm. Hy het haar behoorlik gegaffel maar moes gou bes gee en het weggehardloop. As gevolg van haar getjank kon haar hanteerder haar dadelik vind.

Akita se bors is vir ‘n hele paar sentimeter deur die bul se horings oopgeskeur.

Haar hanteerder kon vinnig hulp ontbied. Die streeksveldwagter van Letaba, Andrew Desmet, het vinnig ingespring om seker te maak als verloop reg.

Paramedici van Phalaborwa, onder leiding van Jaco Gerritse, kon Akita dadelik kom versorg. ‘n Helikopter is ontbied om die spesiale vierpootpasiënt dringend na Mbombela vanuit Letaba te vlieg.

Akita is dringend na Mbombela per helikopter vervoer.

KLIEK EN KYK hoe ereveldwagters toegerus word om K9-eenheid se honde met noodhulp-vir-pote te help

Sy het by die West Acres Dierehospitaal onder die bekwame versorging van
drs. Nicola Coleborne en Albertus Coetzee aangesterk. Die praktyk het ‘n sagte plekkie vir die wildtuin se honde en het ook ‘n paar weke gelede die patrolliehond, Crater geopereer om ‘n klip uit sy maag te verwyder. Crater het by die dood omgedraai.

Akita is onlangs na die K9-eenheid in die wildtuin teruggeneem. Vir eers sê De Beer was Akita op hok gehou sodat sy van haar beserings kan herstel, maar ‘n ruk gelede is sy uitgelaat en het sy reeds weer deel van die eenheid se werksaamhede by hul tuisbasis geword.

Sy is gebruik in opleiding as die bythond tydens gesimuleerde sitiuasies soos op die video hierby.

“Sy is ‘n baie dapper hond, spelerig en rustig. Soek graag aandag. Dis nie elke hond wat kan herstel en terugkom veld toe na so ‘n besering nie. Ons wag net totdat die wond toegroei. Daar is nie steke ingesit nie sodat dit natuurlik kan heg. Ons sal oor ‘n rukkie weet wanneer sy weer veld toe kan gaan.

As dit van haar afhang, is dit sommer volgende week. “Sy is so ‘n ywerige werker, maar vir eers is dit geen swaar veldwerk nie,” sê De Beer.

Nikita aan die herstel by die vee-artse.

  • Nog nuus van die eenheid is dat Izak Venter ‘n kunstenaar van Kaapstad ‘n mosaiekmuurplaat geskenk  aan die eenheid geskenk het. Die bestuurder van die eenheid, Johan de Beer (links), het dit in ontvangs geneem. Dit sal aangebring word by die NKW K9-Herinneringsmuur. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button