Nederige juffrou wen gesogte toekenning
Die 17de jaarlikse Nasionale Onderwystoekennings het die naweek by die Gallagher-konvensiesentrum in Johannesburg plaasgevind.

LYDENBURG – Estralita Skool spog met die beste onderwyser in die land. Monniek Alberts is Saterdag met die nasionale toekenning vir uitnemendheid in die onderrig van kinders met spesiale behoeftes vereer.
Alberts se nederigheid en deernis was deurlopend opsigtelik in haar gesprek met Laevelder.
“Ag, ek wil nie oor myself spog nie, dit was net só ‘n groot voorreg. Ek is baie bly oor wat dit vir my skool, ons department, die dorp en vir Mpumalanga beteken.”
Me. Hanlie Swanepoel, skoolhoof van Estralita loop oor van trots. “Die kwaliteit wat ons in hierdie vrou sien, is uit die boonste rake. Dit maak nie saak hoe klein of hoe groot die kind se gestremdheid is nie, sy maak altyd ‘n plan om die kind te akkommodeer. Sy verdien hierdie toekenning absoluut!”
Alberts het as prys vir haar eerste plek ‘n splinternuwe Renualt Kwid, ‘n naweek vakansie, skootrekenaar, selfoon en R10 000 gewen.
Me. Alinah Ngobeni, die hoof van Mafemani Nxumalo Secondary School in Thulamahashe, was die ander nasionale wenner van die gebied. Sy is as die beste skoolhoof in die land aangewys.
Mnr. Harold Gondwe, hoof van Sitintile Secondary School in KaNyamazane het ‘n tweede posisie behaal in die lewenslange bydrae-kategorie. Drie ander individue het ook in hul kategorieë tweede posisies behaal.
Hulle is mnr. GJB van Rensburg van Laerskool Malelane in uitstaande laerskool-leierskap, me. Fahmeeda Latib van Lydenburg Primary School vir uitnemendheid in laerskoolonderrig, en me. Esmarie Rohr van Skukuza Primary School vir inligting- en kommunikasietegnologie-ondersteunde onderwys.
The LUR van die Departement van Onderwys, me. Reginah Mhaule, het gesê hulle is baie trots op die uitsonderlike prestasies.
“Dit verteenwoordig 32 221 onderwysers in die provinsie wat altyd bo verwagtinge uitstyg om die land te dien.”
Also see: Floods of 2000, part 5: Victims flooded with support and donations
Also read: Conservation and tourism go hand in hand
Read more: UPDATE: UMP staff denied access

