Suid-Afrika: Is hier vir my ‘n toekoms?
Die sleutel tot sukses: nie wat jy dink dit is nie.

MBOMBELA – Suid-Afrikaners voel onseker oor die toekoms. Hierdie onsekerheid bring mee dat baie vermy om oor die toekoms te dink. Party meen Suid Afrika se toekoms is ‘n swart gat sonder hoop.
Dat ons in onsekere tye is, is iets wat politieke analis Theo Venter nie ontken nie.*
“Hoe oorleef ek in Suid-Afrika?”
Venter het onlangs tydens ‘n lesing in Mbombela hieroor gesels.
- “Hoe lyk jou kopkaart?” het hy gevra.
“Jou kopkaart veroorsaak soms dat jy nie kan beweeg nie,” het hy gesê. Jou “kopkaart” verwys onder andere na jou manier van dink en die raamwerk waarbinne jy alles om jou interpreteer.
Paradigmas, die verwerp van werklikhede buite jou eie en ‘n selfgesentreerde wêreldbeskouing kan die houer daarvan onbeweeglik laat.
Die voorafopgestelde idee dat ‘n sekere manier van dink en doen die regte een is, kan ‘n mens laat glo dat daar vir jou slegs één lewenspad is. Jou (eng) roete kan jou toekoms belemmer – selfs al lyk hy binne jou eie paradigmas na die regte een.
- Suid-Afrika – is hier vir my geleenthede?
Volgens Theo lê van die beste geleenthede hier in Suid Afrika. Om dit te ontgin, moet ‘n mens vir jouself vra hoe jou eie kopkaart lyk. “As jou kopkaart teen jou praat, kan jy nie jou bestemming sien nie,” het hy gesê. Kennis van ‘n mens se bestemming, dit wat jy nodig het om daarby uit te kom en ‘n konsep van die belonings wat jou te wagte kan wees, is drie goed wat Theo as belangrik beskou.
Die reis na beloning begin deur goed te verstaan waar jy jouself bevind. “Ons (Suid-Afrikaners) moet
onthou waar ons begin het. Dinge het al baie verbeter,” het hy gesê.
- Omarm verandering.
Verandering is volgens Theo ‘n konstante wat omarm moet word. Baie sukkel egter met ‘veranderingstraagheid.’ “Daar is die groep wat eerder sal klou aan wat hul het as om te verander. Dan is daar dié wat voel dat enigiets nuuts beter sal wees as wat hul tans het,” het hy verduidelik.
- Verstaan diversiteit.
Die verstaan van diversiteit en ‘n geesdrif vir ons land is, volgens, Theo, twee onontbeerlike fakore vir dié wat vooruit wil boer.
- Terug by oorlewing: Maar hóé?!
“Maar hoe oorleef ‘n mens?” het hy prakties gevra. Theo se gids vir oorlewing bied ‘n omvattende antwoord
op hierdie vraag.
“Oorleef nie om te herstruktureer nie, maar om te innoveer,” het hy aanbeveel. Spoed en buigsaamheid is volgens Theo wenslik, terwyl dogma’s en ideologieë ons kniehalter. Hy propageer eenvoud en onderskei dit van eenvoudigheid.
“Hou aan leer,” was sy wyse raad. “Samewerking is belangrik,” het hy gesê en bygevoeg dat ‘n mens veerligkragtigheid (“resilience” in Engels) moet ontwikkel vir hedendaagse oorlewing.
Om vooruit te beplan – selfs met beperkte kennis van wat kom – is belangrik, so ook die vermoë om te antisipeer, al kan jy nie die toekoms voorspel nie.
- Sal ek noodwendig suksesvol wees as ek slim is en hard werk?
Nee. Blote harde werk en ‘n soeke na uitnemendheid is nie genoeg nie. Ons bly in Afrika – ‘n opwindende kontinent wat meer as net dit vereis. Sonder begrip vir ons land, kontinent en sy inwoners, sal jy nie jou volle potensiaal bereik nie.


