Noag se ark glip oop vir Skouprogram se Lewende Hawe-afdeling
Die Mpumalanga Skou se Lewende Hawe-afdeling se program bied iets vir 'n ieder en elk.
MBOMBELA – Die tema van die lewendehawe-afdeling by vanjaar se Mpumalanga-skou is, “Ons bring die plaas na die mense!”

Verskeie uitstallings, interaktiewe vermaak vir die kleingoed, sportitems en ‘n verskeidenheid diere en pluimvee, asook meer eksotiese diere soos kamele, dra hierdie tema uit by die vyf dag skou wat op 30 Augustus by Mbombela Stadion afskop.

“Ons wil dit ‘n prettige opvoedings-ervaring vir almal maak,” sê Rika Human, koördineerder by die lewendehawe-afdeling. Agtien beesrasse gaan te sien wees maar gaan nie in ‘n kompetisie meeding nie. Die ongewone groot Romagnola- en Limousin-beeste sal op die terrein aan die suidekant van die stadion ten toon gestel word. Daar sal ook met vyf skaaprasse, insluitend die Pedi-ras en bokke soos angoras, gespog word.

Vir Human is een van die hoogtepunte die stoetperde wat deel van die uitstalling is, soos die kleurvolle Appaloosas, Arabiere en Amerikaanse snelloperperde (Quarter horse). Friesperde sal met groot sorg van Lichtenburg af hierheen vervoer word. Die gewilde perdekoetsritte sal weer baie spesiaal wees asook die perdevertonings met musiek wat groot skares lok. Die immergewilde “Armand, die Singende Ruiter” sal ook sy buiging maak.

Ook deel van hierdie program is pensteekkompetisies waaraan ruiters van die huidige wêreldkampioenspan, Suid-Afrika, sal deelneem. Daar sal ook Western Mounted Games aangebied word wat sal dien as voorbereiding vir die nasionale kampioenskappe later vanjaar.
Pluimvee is ‘n belangrike deel van die skou. Op 31 Augustus sal 150 hoenders beoordeel word volgens ‘n baie streng kriteria. Hulle word omtrent vir hierdie spoggerige geleentheid opgetof. Selfs die naels word onder meer gevyl. Nog geveerde vriende is die sowat 80 kanaries, 100 wedvlug- en 100 sierduiwe wat te siene sal wees.
In hierdie afdeling is ook voorsiening gemaak vir ‘n dam met krokodille in ‘n baie veilige kamp asook ‘n plaaswerf met watervoëls, swane, hase, Shetland-ponies en nog meer.

Wanda, die befaamde Simmentaler-koei van Willie O’Brien, sal met die hand gemelk word, waarna die kleingoed daaraan sal kan proe en ook ‘n kans kry om haar self te probeer melk. Hulle sal ook huis toe gaan met ‘n bol wol in die hand na die skaapskeerdemonstrasies en geleenthede om foto’s te neem saam met die diere. “Uitnodigings is aan al die skole gerig om die skou by te woon.
“Ons is ook opgewonde oor die landbouskole wat betrokke is. Die Mpumalanga-jeugskouspan gaan hier hul finale afronding kom doen voor hul deelname aan die Nasionale Kampioenskappe. Hierdie kompetisie het niks met die diere te doen nie maar gaan oor die “skouman”, verduidelik Human. Die leerder se kennis, vaardighede en hantering van diere word beoordeel.
Vir senior burgers is voorsiening gemaak deur aan hulle gratis toegang te verleen vanaf 09:00 tot 12:00 op 31 Augustus. Gholfkarretjies is ook gereël om hulle besigtiging van die aktiwiteite makliker te maak.
Teken die datums in jou dagboek aan om seker te maak dat jy niks misloop nie. Mpumalanga-skou duur van
31 Augustus tot 3 September.
