Local newsNews

Uitstekende kleinkuns en jenewer

Dis die verskeidenheid van aanbiedinge - veral die klein juwele, wat Innibos besonders maak.

Ek dink een jaar moet die verveelde feesganger doelbewus wegbly van die groot produksies en hom toespits om net die kleintjies by te woon, die boekbesprekings, eenmanvertonings, gesprekke en goed soos gister se ClemenGold Jenewerproe met ‘n bietjie kleinkuns van Natascha C (Combrink) en haar gereelde begeleier, Henry-John Williams.

Wat hierdie geleentheid nog meer eiesoortig maak, is dat dit ‘n kombinasie was van twee wêreldgehalte-uitvoerprodukte eie aan die Laeveld. Behalwe nou vir die uitstekende ClemenGold-sitrusverweefde handgestookte jenewer van vrugte hier uit ons kontrei, was dit die keurige uitvoering van Europese kabaretmusiek daarmee
saam, ‘n toegif.

Natascha C en Henry-John groei en ontwikkel met elkeen van hulle kabaretvertonings. Ek is nie huiwerig om te sê dat dit wêreldwyd onder kabaretaanhangers aandag sal geniet en plesier sal verskaf nie. Ek weet, omrede ek hiermee grootgeword het. Veral met kabaretmusiek uit die Lae Lande wat my pa so meedoënloos versamel het en die blootstelling daaraan wat ek oor baie jare met my kontak met Hennie Aucamp gehad het.

Ek is ook bly die twee kom die afgelope jare so tot hulle reg hier by Innibos. Sou hulle van elders wees, sou dit steeds die moeite werd gewees het om hulle in te huur.

Hierdie vertoning was ‘n samestelling van goeie kabaretmusiek, heelwat deur die kunstenaars self geskryf en tot wêreldgehalte verwerk en aangebied. Die intellektuele element en nuanses wat die liefhebber van die kabaretlied soek, was in die aanbieding opgesluit: ironie, melancholie, nostalgie, spot, retrospeksie en kommentaar op die lewe.

Ongelukkig was daar net die een vertoning – uitverkoop en volgepak. Ek dink die tyd het aangebreek vir die twee om op toer te gaan. Vêr buite die Laeveld. Selfs vêr buite die land.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button