Local newsNews

Mentalist laat gehoor sprakeloos

Riaan Loubser is terug met meer tegnieke waarmee hy met jou kop smokkel, om jou te laat dink hy kan gedagtes lees. Of kan hy dalk regtig?

In Illusionêr vêrder het hy Vrydag in die Boma-kuierteater op die feesterrein sy gehoor se reaksies raak voorspel. Die finale het ‘n welverdiende staande ovasie ontlok. Hierdie spesiale uur was sy enigste vertoning vanjaar.

Riaan skep die illusie dat hy gedagtes kan lees. Hy gebruik verskillende tegnieke daarvoor, en het afgeskop met opwarmingsoefeninge op vrywilligers wat nommers op dobbelstene kon kies.

Hulle muscle memory gee hom dan leidrade om te bepaal watter een hulle gekies het, hetsy dit is dat hulle arm bietjie verstyf of verslap as hy die regte nommer sê, of hulle pupilgrootte wat verander.

Ann-Mari Nieuwenhuis “wys” vir Riaan watter nommer op die dobbelsteen sy gekies het.

Hy kan ook maklik agterkom wanneer iemand jok.

Vyf vrywilligers moes prentjies teken (hy het nie geweet wie het wat geteken nie). Hy het dit een-een vir die groep gewys, en hulle moes in elke ronde “nee” of “ja” sê op die vraag of dié (sê nou maar vliegtuig) hulle handewerk is. Só kon Riaan deur hulle intonasie en lyftaal flussies bepaal wie het wat geteken.

Kyk die video

Hy het ‘n vrou gefop om te dink sy het gevoel sy word aangeraak (die gehoor het hoorbaar na hul asems gesnak), en ‘n klein bietjie hipnose op vrywilligers probeer (dit was nie suksesvol nie, maar daar was bloot nie genoeg tyd nie).

‘n Aktrise (wat in Altaar te sien is) het hom ook gehelp.

Lees meer oor Altaar

https://www.citizen.co.za/lowvelder/395728/die-stuk-laat-jou-diep-nadink/

Sy het rug-aan-rug met hom gestaan sodat hy ‘n prentjie kanteken van die voorwerp wat een van die gehoorlede as iets waarvoor hulle lief is, neergeskryf het. Dít is lukraak gekies.

Riaan doen baie moeite om sy gehoor te wys dat sy vrywilligers nie geplant is, of vir hom fluister, of dat hy enige ander truuk trek nie (buiten om mense te lees en te probeer manipuleer nie), en dit maak Illusionêr vêrder baie geloofwaardig.

Deurlopend het hy, onbekend aan die gehoor, suggesties gemaak om die gehoor te “beheer” – dit het duidelik uitgekom in die finale.

Sien nog produksies by die Boma-kuierverhoog

https://www.citizen.co.za/lowvelder/395783/vind-uit-wat-agter-die-skerms-die-toneelbedryf-aangaan/

Eers is mense hier en daar gevra om nommers op ‘n rooster in te vul. Die uitlees van ‘n sekere lyntjie het die nommers 7-10-27-7 gelewer.

Toe het die gehoor bal gespeel – wie die bal gehad het wanneer die musiek stop, moes vragies oor ‘n “droomvakansie” antwoord. So het ons saam bepaal ons wil in Oktober 2021 vir 21 dae Parys toe gaan.

Maar die mentalist bring toe ‘n koevert uit waarin hy self die vorige dag oor so ‘n droomvakansie geskryf het. Die details was identities as ons s’n – en die nommer was die verbeelde besprekingsnommer wat hy self gekies het.

Maar die luidste applous was vir die datum wat dié nommers, omgedraai, aangedui het: 7 Julie 2017, gister se datum. Riaan se geheim? Hy het deurlopend die woord “vandag” 213 keer gesê. Hy het ongelukkig geen ander geheime oor sy suggesties verklap nie. Ons sal volgende jaar weer moet gaan kyk.

Lees meer

innibos 2017

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button