Afrikaanse teaterpioniers praat prontuit
As Afrikaners versuim om teaterproduksies te ondersteun, sal baie akteurs nie kan aftree nie.
Teater. Dit is nie net ‘n selfstandige naamwoord nie. Teater is ‘n werkwoord, ‘n vóélwoord, ‘n wees-woord. Dit is die aorta van ons kultuur. En dit is besig om te disintegreer.
Nie weens ‘n gebrek aan passie of toewyding nie, maar aan geld. Desondanks die feit het die nuwe millenium se teaterpioniers ver gekom. Die harde werklikheid is egter dat ‘n mens net só ver kom sonder genoegsame fondse.
Daar het Vrydag vier legendes op Hannes van Wyk se Kwêla-bank gesit. Deon Lotz, Antoinette Kellerman, Chris van Niekerk en Albert Maritz. Elkeen was al in my huis. Elkeen het tot my liefde vir die Afrikaanse taal bygedra.

Dis mense met ‘n passie vir kunstige, lywige, suiwer Afrikaans. Noudat hulle hierdie passie uitgeleef en tot my kennis bygedra het, kan ek floreer. Hulle toekoms is meer duister. Op Hannes se bank kon hulle eerlik gesels oor kwellings – daar is baie.

Chris was eerlik en het sy gevoelens goed verwoord. Hy gaan nie sy standaarde verlaag om by ‘n kitsgenerasie aan te pas nie. Selfoonoudisies grief hom en hy vermy sosiale media – ‘n hedendaagse bemarkingsplatform. Dis nie dat Chris op sy louere sit en wag vir werk nie – hy gaan nog vir oudisies.
Al vier is dit egter eens dat baie met betrekking tot die bedryf verander het. “Pieter Toerien se produksies soos Swan Lake on Ice verkoop uit, maar ons sit met leër teaters, selfs wanneer puik produksies op die planke is,” het Chris gesê. Niemand het dit so bewoord nie, maar die algemene gevolgtrekking was duidelik: hedendaagse gehore soek na kortstondige, oppervlakkige kitsvermaak.

Die pioniers het gister die teenoorgesteld hiervan versinnebeeld. Hulle is ou-skool en het drama gaan studeer – iets wat Antoinette en Deon nou as belangrik, maar nie as ‘n voorvereiste vir sukses nie, beskou. Chris het uitgelig dat jong akteurs se stemme nie meer so goed dra nie, omdat hul nie die regte tegnieke ken om dit te laat gebeur nie.
“Onthou,” het Antoinette gemaan, “die akteur se belangrikste element is die teks. Sy belangrikste persoon is die gehoorlid,” het sy benadruk.


Die argument het net begin warm word toe Hannes aanbeweeg na die lekkerste deel van akteur-wees. Die vier is dit eens dat die bevrediging daarin lê dat die akteur self weet hy het sy navorsing en karakterstudies gedoen. Hy speel die rol van ‘n vól karakter en weet dat hy dit goed doen. Wanneer die akteur van die verhoog af klim na so ‘n vertoning kan niks sy werksbevrediging klop nie.
Hulle is bekommerd oor die toekoms van jong opkomende akteurs. Destyds se streeksrade het mooi na akteurs gekyk. “Daar was geld vir kwaliteit produksies,” het Antoinette gesê. “Een produksie sou maklik ses weke aanhou,” het Deon bygevoeg. Vandag is dinge anders. “‘n Mens gaan verfilm nie sommer vir weke iewers by die fliek se ligging nie,” het Albert saamgestem.
Oor bekend wees het die vier lekker gelag. “Dis deel van ons werk en ons is dankbaar daarvoor,” het Deon gesê. Vir
Chris het alles perke. “Mense noem my nou nog Francois (van 7de Laan) of – nog erger – Oubaas (Pierre van Platzen se karakter in 7de Laan).” Hy het die gekheid hiervan geïllustreer met ‘n voorbeeld. “Sal jy vir Brad Pitt aan die oorkant van die pad skree: ‘Hei, Fight Club?!’”
Albert speel deesdae minder toneel. Dis omdat hy nie voel dat hy oor die eindelose energie beskik wat ‘n akteur moet hê nie. Hy fasiliteer eerder akteurs.
Die gesels was heeltemal te gou verby. Wat indruk gemaak het, was die harde werklikheid: as Afrikaners versuim om teaterproduksies te ondersteun, sal die pioniers van die bedryf nie kan aftree nie.
Hulle sal waarskynlik doodgaan sonder om aan hul basiese behoeftes te kan voldoen. Hannes het almal uitgenooi om meer teaterproduksies te kyk. “Probeer een wat jy nie normaalweg sou nie. Kom uit jou gemaksone,” het hy die gehoor uitgedaag.

