Afrikaners… In watter boks plaas ‘n mens ons?
Sy meen dat Afrikaners baie selfbewus is, maar graag vir hulleself lag.
Om ‘n Afrikaner in ‘n boks te druk, is iets wat Esther von Waltsleben nie sommer doen nie.
Die woord “doos” is, aldus Esther, meer van pas.

Sy meen dat Afrikaners baie selfbewus is, maar graag vir hulleself lag. Dit illustreer sy deur middel van verskillende karakters in haar eenvrouvertoning, O my goeie volk. Eers is sy matrone Anna de Beer van die ouetehuis. Anna skinder land en sand oor elkeen van die oumense wat by haar bly.

Hierdie matrone bid vir Job se geduld en Salomo se wysheid – sy het dit daagliks nodig. Die oumense maak haar gek.
Tannie Theron, Tannie Gelderblom en Oom van der Spuy het elkeen hul eie gewoontes wat kos en televisietyd betref. Tannie Hattingh hakkel, Oom Henkie is gay, tannie Keyser is doof soos ‘n kwartel… Die lys gaan aan. Elkeen is uniek – sommiges se uniekheid veroorsaak vir matrone Anna meer kopsere as die uniekheid van ander.
Dan klim Esther in die skoene van tannie Gelderblom. Die ou vrou dink sy beheer die hele ouetehuis. “Ek het my hele lewe lank adviseur gespeel vir Jan Alleman – pro bono,” sê sy. Tannie Gelderblom hou van kykNET en van Facebook. “Waar sien ‘n mens wat julle wys?” vra sy op Facebook se muur. “Beste mevrou Gelderblom. Dankie vir u kommentaar,” kom die terugvoer. Dis egter nie vir Tannie Gelderblom goed genoeg nie. Sy wil geselsies maak.

Dan wil sy weet: “Wat is die beste 15 minute op kykNET?” Jy sien, sy wil weet wanneer om die afstandbeheer van ou Anna af weg te rokkel. “Julle sepies is Kommin – met ‘n hoofletter,” vertel sy vir kykNET. Sy kruis swaarde met ‘n denkbeeldige Karen Meiring. Karen verwys haar na Hlaudi Motsoeneng oor nog ‘n sepienavraag – dié keer is 7de Laan die onderwerp van bespreking. Hierdie gesprek eindig nie voordat die gordyn val nie. Die vertoning eindig skielik – ‘n mens wil eintlik hê dat dit moet aanhou.

