Local newsNews

Troos kombers.

Dames van die gemeenskap het ingespring en binne nege dae genoeg blokkies gehekel vir drie komberse.

BURGERSFORT – Niks kan die seer van die verlies van ‘n geliefde wegneem nie, maar vroue in die gemeenskap het ‘n unieke manier gekry om te wys dat hulle omgee. Charles Botha, Alida se man is onlangs tydens ‘n skietvoorval in die dorp noodlottig gewond. Toe sy op die toneel aankom was sy net betyds om ‘n paar laaste woorde met hom te deel voor hy dood is. Hy word ook deur sy negejarige dogtertjie oorleef. Alida vertel hoe dapper Charles was en dat hy altyd eerste op ‘n toneel was. Hy het sy werk as sekuriteitsbeampte by National Guarding Sekuriteit baie ernstig opgeneem.

Alida se situasie het Ria van Wyk, eienaar van die Wool Fairy-wolwinkel, aangegryp en sy het in haar hart gevoel sy wil ‘n verskil maak.
“Ek wou iets vir iemand doen om te sê dat ons as gemeenskap werklik omgee,” vertel Van Wyk. Sy het toe die Wool Fairy-projek gestig en vir klante en vriendinne wat kan hekel, gevra om vierkantige blokkies te maak wat hulle as ‘n kombers aanmekaar kan vaswerk.

Binne nege dae was daar genoeg blokkies om drie komberse te voltooi. Van Wyk het ‘n kombers elk aan Alida en haar dogtertjie, Juane oorhandig. Op elkeen is ‘n pienk en swart gehekelde strik vasgeheg. “Die swart simboliseer rou en die pienk hoop,” voeg Van Wyk by.
Sy vra enigiemand wat kan hekel of brei om deel te word van die projek sodat meer mense in die gemeenskap bereik kan word. Hulle vra ook vir nie-bederfbare kos wat aan gesinne geskenk gaan word asook enige kontantskenkings.
“Ek wil net baie dankie sê aan elke persoon wat deel van die projek was. Dit het soveel vir my en my dogtertjie beteken. Ek sal altyd die uitdrukking op haar gesiggie onthou toe sy die kombers styf teen haar vashou,” vertel Alida.

Dié vroue het gehelp het om aan die kombers te hekel: Jeanenne van Heerden, Zelna Wheeler, Elsie Joubert, Charmaine Pieterse, Venessa Schaefer, Paula Cilliers, Gerida Marais, Olga Gouws, Babs Oosthuizen, Beatrix Labuschagne, Annelize van Graan, Maryjo Jansen van Rensburg, Viviene Boshoff, Ria van Wyk en Lenie Kriel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bridget Mpande

Bridget Mpande is the editor assistant for Mpumalanga News and Lowvelder Express. She joined Lowveld Media in 2014 and covers several beats in the newsroom. She is a mentor and believes there is no community newspaper without the community.
Back to top button