Curro Nelspruit maak opslae by die ATKV-tienertoneel
"Danny Twist" se akteurs met top-toekennings vereer.
MBOMBELA – Curro Nelspruit het vanjaar vir die eerste keer aan die jaarlikse ATKV-tienertoneelkompetisie deelgeneem en besonder goed gevaar.
Die provinsiale streeksfees het by die Hoërskool Ermelo-ouditorium plaasgevind, waar die groep talentvolle leerders ‘n gesamentlike toekenning vir hulle ensemblewerk in die toneel, Danny Twist ontvang het. Xander Goosen het ‘n prys vir sy spel as Cedric ontvang.
Die groep het onder leiding van Frances van Niekerk opgetree.

Die ATKV-tienertoneel is ‘n nasionale teaterkompetisie vir hoërskoolleerders.
Elke regisseur word aangemoedig om die leerders soveel geleenthede as moontlik te bied om by al die aspekte van die projek betrokke te raak, soos die regie, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur en choreografie.
Curro Nelspruit se toekenning is ‘n uiters goeie prestasie, in ag genome dat meer as 200 skole landswyd optree en die beoordeling ongelooflik streng is.
Curro Nelspruit is besonders trots op die prestasie en gaan ‘n uitreksel uit die toneel by die jaarlikse Curro Kuesta, wat in Augustus in Pretoria plaasvind, opvoer.
