Justin het jou hulp nodig
Justin Ware en sy vrou, Lenie is opsoek vir 'n goeie Samaritaan wat die verblyf van hul bestuurder na Centurion kan borg asseblief

MBOMBELA – Justin Ware (34) het na dae se soek, uiteindelik ‘n bestuurder gekry om hom te help om die Ramcat Fishing-geleentheid by die African Pride Irene Country Lodge in Centurion by te woon.
Die Ramcats Men in Wheelchairs Fishing-toernooi vind op 9 September plaas. Justin, ‘n oudleerling van Lowveld High School, is 17 jaar gelede tydens ‘n rugbywedstryd beseer wat hom ‘n kwadrupleeg gelaat het.
Hy werk tans as ‘n kwartelboer net buite Mbombela. Hy het Laevelder onlangs genader vir hulp om ‘n Samaritaan op te spoor om hom na die geleentheid te bestuur.

Weens sy toestand moet hy in ‘n spesiale voertuig, wat hom toelaat om in sy rolstoel te bly, vervoer word. Sy rooi kombi is omskep om hom en sy stoel te akkommodeer, met reëlings en harnasse wat hom in die voertuig anker.
Sy vrou Lenie (37), het ongelukkig nie ‘n bestuurslisensie wat haar toelaat om hom na die geleentheid aan te ry nie.

“Ons het iemand gehad wat ons twee jaar gelede geneem het, maar hy is verlede maand skielik oorlede,” verduidelik Justin.
Die egpaar se vriend, Rodney Harris, kon aanvanklik nie saamgaan nie, maar danksy ‘n verandering in omstandighede kan hy Justin nou wel na die visvanggeleentheid neem.
Daar is egter ‘n nuwe struikelblok: twee nagte se verblyf vir Harris en sy vrou, Annette. Verblyf by die lodge is ‘n bietjie duur.
“Ons wou verkieslik hê dat hulle nader aan ons bly sodat dit maklik sal wees as ons van een plek na die ander moet beweeg,” sê Justin.
Verblyf buite die lodge sal ook welkom wees, en enige hulp om dit te bekom sal baie verwelkom word. Navrae: Justin Ware by 081-730-7258.

