Pastoor vier 43-jaar op die preekstoel
Lourie Brits, pastoor van die Pinkster Protestante Kerk in Mbombela vir die afgelope 43 jaar sê hy sal aanhou die Here se woord met die gemeenskap deel tot hy nie meer kan nie

MBOMBELA – Toe past. Lourie Brits (74) en sy vrou Willa (68) in 1974 hierheen getrek het, het die dorp nog uit plase en ongeveer 4 000 inwoners bestaan.
“Lowveld High School was klaar gebou en hulle was nog besig om Hoërskool Bergvlam te bou,” onthou hy.
Destyds was hy ‘n jong pastoor van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) wat vanaf Springs aan die Oos-Rand by die Mbombela-gemeente aangesluit het. Nou, 43 jaar later is hy steeds die pastoor by die kerk.
Hy het oor die jare 90 beroepe na ander gemeentes gehad, maar dit elke keer van die hand gewys. Hy het gevoel dat die Here nooit vir hom gesê het om iewers anders te gaan bedien nie.
“Ons is gelukkig dat die kerkraad die opsie gee om nee of ja te sê,” verduidelik sy vrou van 48 jaar, Willa.
Die saggesproke pastoor het as een van agt kinders in Springs grootgeword. Sy pa was ‘n boukontrakteur. Lourie wou ‘n afslaer of veearts word.
“Dit was vir my nog altyd interessant,” sê hy. Maar ná skool (hy het by Hoërskool Middelburg gematrikuleer) het hy besluit om ‘n pastoor te word. “Dit was vir my ‘n roeping om in bediening te wees.” Hy is op 23 as pastoor in die PPK voorgestel.
Vir agt jaar het hy in verskillende gemeentes gewerk, tot hy na Mbomela gestuur is.
In die koerant is dit verkeerd genoem dat Willa met die pastoor se broer uitgegaan, terwyl hy met haar suster getroud is. Past. Lourie and Willa het ontmoet toe sy broer met Willa se suster uitgegaan het. “Twee broers is nou met twee susters getroud,” verduidelik hulle
Sy eerste maande by die kerk was nie maklik nie omdat daar geen gesprekke oor sy salaris was voor hy daar aangekom het nie. Nietemin, kon die Brits-gesin kop bo water hou, tot die skriba twee maande later onthou het dat hy nie ‘n tjek ontvang het nie. Hulle is intussen met twee seuns en twee dogters. Hulle het ook agt kleinkinders geseën.
Deur die jare het Lourie omgesien na die bou van die kerkgebou in Le Roux-straat in Sonhuewel asook die groei van die gemeente. Verskillende mense het gekom en gegaan, maar drie gemeentelede is al sedert Lourie se begin daar: Joey Oberholster en twee van haar dogters, Leonie Oberholster en Sunette Henning.
“Ek sal aftree indien die Here sê dat ek moet,” het hy aan Laevelder gesê. Tot dan sal hy voortgaan met dit waarvoor hy lief is: om die woord van God te verkondig.


