Local newsNews

Kleurvolle mot maak amok onder broodbome

'n Hele broodboomversamling kan in 'n oogwink, uitgeroei word.

MBOMBELA – Op die oog af lyk die luiperdmot soos een van die Laeveld se talle kleurryke vlinders. Dit is eintlik ‘n wolf in skaapsklere wat onmeetbare skade aan die gebied se broodbome aanrig.

Alle tekens dui daarop dat die pes in Januarie in die streek kop uitgesteek het. Volgens die eienaar van End A Pest, Marais Bam, het hy self eers twee maande gelede die mot vir die eerste maal in die 15 jaar wat hy in die bedryf is, teëgekom. “In dié tydperk het ek vier maal eerstehands beleef hoe dit ‘n hele broodboomversamling kan uitroei,” sê hy.

Volgens bekende tuinboukundige, Willem Froneman toon studies van plantfossiele dat broodbome 65 miljoen jaar gelede ontstaan het toe die dinosourusse op hulle piek was.

Die unieke voorkoms van die plante fassineer plantliefhebbers en dus is dit ‘n gesogte plant wat oraloor in Laeveld-tuine te sien is. “Die tekstuur en struktuur van die plante en die keëls maak hulle geskik om as fokusplante in tuine gebruik te word,” verduidelik Froneman. Dit is dus as gevolg van hulle unieke ontstaan dat broodbome so gesog onder versamelaars is. “Hoe skaarser die plant, hoe meer waarde het dit en dus word daar ook duurder daarvoor betaal,” sê hy.

Dié aantreklike oranjekleurige mot met swart kolle, het aanvanklik slegs in KwaZulu-Natal, Mosam-biek en die binneland van Zim-babwe voorgekom. Maar, volgens Froneman is hierdie motte nou wydverspreid en verwoes broodbome so ver soos hulle gaan.

“Die motte lê hulle eiers op die agterkant van broodboomblare, en wanneer die eiers uitbroei, vreet die larwes of wurms die jong, sappige groeipunte van blare en kan veroorsaak dat die plant vrek,” sê hy.

Hy verduidelik dat die verspreiding van die motte voorkom kon word.

“Die mens is verantwoorlik dat die plaag nou ook in die Laeveld voorkom. Hulle skenk, koop en verkoop plante en so word die eiers wat agterop die blare gelê word, van een gebied na ‘n ander versprei.”

Froneman sê dat al wat nou gedoen kan word, is om plante gereeld vir eiers en larwes te monitor en motte uit te roei voor dit te laat is. “Om die plaag te bestry moet die eiers en larwes met ‘n sistemiese insekdoder gespuit word,” sluit hy af.

Lees ook: Bush walk turns into a nightmare

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button