Bejaardes wys hulle is nog jonk van gees
Die pret en plesier van die Guardian Angels se jaarlikse speletjiesdag verlede Donderdag het bejaardes van die dorp en Malalane sommer weer jonk laat voel.
MARLOTHPARK – Joachim en Annemarie Schulz was die gashere van die Guardian Angels se onlangse speletjiesdag en die groep kon by die Henk van Rooyenpark onder die bome uitspan.
Die meeste het hulle hand-oogkoördinasie met ‘n paar speletjies getoets en dit geniet om vriende aan te moedig, terwyl ander eerder net lekker ontspan het.

Die geleentheid is een van die hoogtepunte op die Guardian Angels se kalender en hierdie jaar was nie ‘n uitsondering nie.
MEER FOTOS’:
Die bejaardes en vrywilligers van Guardian Angels se Malalanetak kuier gewoonlik een keer ‘n maand saam. Die geleentheid bestaan uit ‘n tema-byeenkoms of een of ander prettige aktiwiteit en die groepie smul gewoonlik ook aan lekkernye. Verskeie gemeenskapslede help gewoonlik om hierdie byeenkomste ekstra spesiaal te maak.
LEES: Angels begin 2018 met ‘n viering van die liefde
Vrywillers besoek ook gedurende die maand die spesifieke bejaardes onder hulle sorg en sit handjie by waar ook al nodig.
Die komitee vergader elke eerste Maandag van die maand om 10:00 by die NG Kerk Malelane en belangstellendes is welkom om by hulle aan te sluit.
Vir meer inligting skakel gerus vir Alta Robbertse by 082-493-4261.
