Local newsNews

Doktorsgraad vir jong onderwyser

JP Hugo, 'n onderwyser by Laerskool Laeveld, het onlangs sy doktorsgraad verwerf.

MBOMBELA – Sy nederigheid is selfs meer indrukwekkend as die feit dat hy op 33 ‘n doktorsgraad het. Dit is die indruk wat ‘n mens van JP Hugo kry.

JP is tans die departementshoof van skooldisspline en
veiligheid asook ‘n gr. 7-wiskundeonderwyser by Laerskool Laeveld. Hy het pas sy doktorsgraad verwerf met die tema: Die ontwikkeling en implementering van mentorskap van jong opvoeders.

“Met my meesters-graadstudie het ek die leemte opgemerk en dit was die dryfkrag vir my,” vertel JP.

Hy het bevind dat die meeste onderwysers binne die eerste vyf jaar van skoolgee die beroep vaarwel roep en groener weivelde
gaan soek. Dit was ook vir hom baie waardevol om te bevind dat Model C-, privaat en plattelandse skole dieselfde behoefte het – ‘n mentor om hulle by te staan in hulle loopbaan.

Die Hugo-gesin: JP, Kristen, William en Esmé.

JP ontvang op 12 Septemeber amptelik sy doktorsgraad by die Universiteit van die Vrystaat. Dit is vir hom ‘n groot voorreg aangesien hy hierdie graad voltooi het met twee kleuters in die huis.

LEES OOK: Laerskool Laeveld learners excited for big school

“Dit het my regtig die waarde van pawees geleer. ‘n Mens besef jy kan nie meer net al jou tyd aan hierdie graad spandeer nie want daar is nou twee klein lyfies wat ook jou aandag kort,”
sê JP.

Hy en sy vrou, Esmé en hul kinders, Kristen (4) en William (2) geniet hulle lewe hier in die Laeveld. “Ek het my vrou ontmoet by ‘n spanbou by my vorige skool wat sy toevallig aangebied het. Ons is gelukkig. Beide ons ouers is hier en ek glo nie ons sal gou uit die Laeveld trek nie.”

Vir JP was sy vrou die een wat hom deur sy graad getrek het. “Sy was ‘n absolute steunpilaar. Ek sou dit nie sonder haar kon doen nie.”

LEES OOK: Color Run at Laerskool Laeveld on Monday

JP koester groot drome vir sy toekoms. “Ek wil myself graag in die onderwys vestig en die leer klim.” Hy sê hy wil graag binne die volgende vyf jaar ‘n hoof of onderhoof van ‘n skool wees en oor 10 jaar sou hy graag by ‘n universiteit wou werk. Waarlik iemand wat ‘n mentor vir sy leerders kan wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button