Local newsNews

Sonja en Tjokker sing en dans die pad na Malelane-kinders se harte oop

Sonja Herholdt en haar basterbrak, Tjokker het verlede Donderdagoggend al singend, dansend en laggend belangrike lewenslesse aan leerlinge van Laerskool Malelane en Desiland Kleuterskool oorgedra.

MALALANE – Die ikoniese Afrikaanse sangeres, Sonja Herholdt en haar hond, Tjokker, het verlede Donderdagaand leerlinge van Laerskool Malelane en Desiland Kleuterskool se aandag en verbeelding van die eerste paar minute vasgevang.

Byna ‘n uur vol lesse, ou en bekende liedjies en dansies het daarna vinnig verbygevlieg. Kinders het geskater van die lag toe die nimlike Tjokker, ‘n groot bruin hond, te voorskyn kom.

Hy het Sonja gehelp om die Bybelverhaal van Noag te vertel en die kinders het toe ook geleer dat diere soos die renoster beskerm moet word.

Sonja verduidelik dat diere soos renosters beskerm moet word.

Daarna wou Tjokker nie sy reuse-suigstokkies deel nie, maar is deur middel van ‘n liedjie deur Sonja oortuig. “Sharing is caring,” het sy benadruk.

Kinders kon ook lekker hop en spring en het geleer wat hulle alles moet was wanneer hulle bad.

LEES: Kinders leer hoe om hulself te beskerm

Die kleinspan het ook ‘n oulike liedjie oor tandeborsel geleer. Hulle het byna soos een man “Stapsoldaatjie” begin sing toe Sonja vra of hulle dit ken.

‘n Paar kinders is ook gedurende die optrede gekies om op die verhoog te gaan staan en spesiale “glimlag”-antennatjies te dra. Die jongklomp het aan Tjokker gevryf, ‘n “high-five” gegee en hulle lywe saam met hom gewikkel.

‘n Paar kinders is genooi om op die verhoog te kom sing en dans.

‘n Ernstiger les het gehandel oor morsjorse. Sonja moes hom leer dat ‘n mens papiere altyd moet optel en in die asblik gooi, nadat hy ‘n klomp stukkies papier op die vloer uitgekeer het.

‘n Masjien wat deur Tjokker ontwerp is, het met groot rookbolle wat daarmee gepaard gegaan het, ‘n klomp spesiale knope “uitgespoeg” wat die kinders as aandenkings kon koop.

Daarna het ‘n laaste liedjie gevolg voordat die kinderstot hul misnoeë, vir Tjokker en Sonja moes groet.

Sonja en Tjokker sing saam.

Vir kinders wat steeds nie kan ophou praat oor die prettige vertoning nie, kan ouers gerus Sonja en Tjokker se albums en DVD’s propvol kinderliedjies aanskaf. Die tweetjies tree landswyd by skole en in gemeenskappe op en was vroeër verlede week ook in Mbombela te sien.

Besoek gerus www.sonjaherholdt.co.za vir meer inligting oor Sonja se optredes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button