Local newsNews

OPVOLG: Transnet sê ongeluksterrein word binnekort opgeruim

Transnet strewe daarna om die wrak so gou as moontlik te verwyder, maar ook na die veiligheid van ons werknemers, die gemeenskap wat betrokke is, asook die kontrakteur.

KROKODILPOORT – Transnet het onlangs verskoning gevra vir die ongerief wat die treinwrak tussen Mbombela en Malalane veroorsaak.

Die ontsporing het reeds meer as drie maande gelede, halfpad tussen die stad en die dorp op die treinspoor langs die Krokodilrivier gebeur en die toneel is duidelik vanaf die N4-snelweg sigbaar. Die trein behoort aan Transnet en was met ‘n vrag steenkool na Maputo onderweg.

Drie maande na ontsporing van trein lê wrak nog net so |
Die maatskappy se woordvoerder, Mike Asefovitz, het onlangs lig op ‘n raaiselagtige ongeluk gewerp. Hy het verlede week verduidelik dat ‘n tender toegeken is en die wrak na verwagting in November verwyder sal word.
“Ons plaas op rekord dat ons onvoorwaardelik verskoning vra teenoor die Laeveldse gemeenskap. Die opruiming is egter nie so eenvoudig nie en is op ‘n uiters gevaarlike gedeelte van die spoor,” het hy gesê.
“Transnet strewe daarna om die wrak so gou as moontlik te verwyder, maar ook na die veiligheid van ons werknemers, die gemeenskap wat betrokke is, asook die kontrakteur. Ons moet verseker dat dit binne die protokol wat so ‘n proses verg, plaasvind,” het Asefovitz bygevoeg.


Hy het verduidelik dat wanneer ‘n trein ontspoor, dit ‘n hoë prioriteit is om dienslewering te hervat. “Dit het ‘n groot impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie as werksaamhede stilstaan,” het hy gesê en bygevoeg dat die wrak so spoedig moontlik van die spoor verwyder is sodat dienslewering kon voortgaan.

Vragtrein ontspoor onder raaiselagtige omstandighede

“‘n Tegniese span stel dan die omvvang van die skade vas, waarna daar bepaal word wat herstel kan word en wat nie. Hulle bepaal dan ook die waarde van onderdele soos onder meer wiele en kompressors. Dit wat gebruik kan word, word as voorraad gehou om koste van toekomstige onderhoud te verminder,” het hy gesê.
Wat nie hergebruik kan word nie, word as skroot opgeveil. Die hoogste bieër kan dan die metaal begin verwyder.


“Weens die omgewing waar die spoor geleë is, word daar verseker dat bogenoemde op ‘n veilige wyse geskied,” het hy gesê. Hy het voorts gemeld dat die kontrakteur geldige omgewings- en veilgheidsplanne moet indien, asook die nodige sertifikate in besit moet hê voor die opruiming kan voortgaan.
“Parte wat wel herstelbaar is maar nie op die spoor geskuif kan word nie, moet nou op treintrokke gelaai en na ‘n werkswinkel geneem word. Die kontrakteur moet die parte wat nie herstel kan word nie, verwyder voordat dit opgesny kan word,” het hy gesê.
Volgens Asefovitz gaan die spoor vir ten minste twee dae vir die prosesse beset moet word en sal alle spoorverkeer gestaak moet word.

“Wanneer die kontrakteur klaar is, begin die rehabilitasie van die omgewing,” het hy afgesluit.

Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button