Veearts help hondeheld na swartmamba se byt
'n Heldhaftige Franse dashond (basset hound) het verlede Maandagaand 'n noue ontkoming met die dood gehad toe hy sy eienaar teen 'n swartmamba wou beskerm.
KOMATIPOORT – Danksy Roelf Fritz se spoedige reaksie en die span van Malelane Dierekliniek kon Sebastian die Franse dashond verlede Maandagaand vinnig genoeg teengif inkry nadat hy deur ‘n swartmamba gebyt is en is hy op die herstelpad.
Sebastian is een van Roelf se vyf honde en bly saam met die plaasbestuurder en sy vrou, Octavia op ‘n plaas in die Komatipoort-omgewing.
Roelf vertel dat hy onraad gemerk toe hy na werk by die huis stilhou en slegs Sebastian hom kom groet het.
Sebastian het egter gou weer om die motorhuis gehardloop. Roelf het gevolg op pad na die huis toe en daar ‘n lang mamba met sy kop in die lug gesien.
LEES: Locals learn how to handle deadly snakes like pros
Die honde het hom omring en net buite pikafstand gebly. Toe Roelf egter verskyn, het Sebastian bo-oor die slang gehardloop om sy eienaar te beskerm.
Roelf vertel dat hy vir die honde geskree het en dat hulle voordeur toe gehardloop het. Die slang het egter vir Sebastian blitsvinnig gepik, sonder dat Roelf dit besef het.
Die reptiel het agter ‘n sak tussen boomwortels gaan lê en Roelf het sy kollega, Doppies Kleynhans, gebel om dit te identifiseer en te verwyder.

Roelf is in die huis in om te kyk of die honde reg is en om vir Octavia te vertel wat gebeur het.
Kleynhans het intussen die slang gevang en bevestig dat dit ‘n swartmamba is.
Die volgende oomblik het Roelf ‘n hond hoor tjank en gesien dat Sebastian se oë omdop en skuim by sy bek uitkom.
Hy het die hond gegryp, in die bakkie gelaai en na Malelane Dierekliniek gejaag.
Aangesien die swartmamba een van Afrika se giftigste slange is, moet teengif so gou as moontlik toegedien word om dood te voorkom.
Octavia het solank vir dr. Brand van Sittert en die dierekliniek se span laat weet wat gebeur het.
Omtrent 45 minute nadat Sebastian gepik is, was hy op die veearts se tafel.
“Hulle het dadelik aan die werk gespring met druppe en teengifmiddels en die hele span het werk gemaak daarvan om my held te red. Brand was heel aand op met Sebastian en ek het deurlopend terugvoer gekry oor sy toestand,” het Roelf vertel.

Dinsdagoggend het Roelf die goeie nuus gekry dat Sebastian kan loop en besig is om te herstel. Die getroue dier is Dinsdagmiddag onslaan, tot Roelf en Octavia se groot dankbaarheid.
“Ek wil net vir mense laat weet dat mens nie te gou moed met jou diere moet opgee nie, al lyk dinge hoe sleg. Sebastian het sy lewe op die spel geplaas om my te beskerm en dit maak hom ‘n held. Brand en sy span is ook groot helde oor die feit dat hulle bereid is om teengif ten duurste aan te hou vir ons diere. Dit wys my dat die mense ernstig oor diere is. Ek en my vrou bedank hulle vir hul harde werk en wat hulle vir die gemeenskap beteken,” het Roelf gesê.
LEES: Fireworks season is upon us – know how to protect your vulnerable pets
Hy meen dat mense moet weet daar is teengif, hulp en mediese dekking vir diere beskikbaar. Hy maan mense om voorbereid te wees en ‘n plan te hê vir noodgevalle met hul diere.
LEES: Amazing Dog Who Couldn’t Walk Well Gets Life Changed with New Wheelchair
