Gelofte word oral jolig herdenk
Daar was vanjaar weer nie 'n tekort aan geloof, hoop en feesvieringe by die jaarlikse Geloftefees wat die afgelope naweek op verskeie plekke gehou is nie

‘n Groot trekpleister was die saamtrek by die Watervalsgeloftefeessaal in die hartjie van die Watervalsriviervallei. Kampeerders het hulle reeds verlede Vrydag by die terrein begin tuismaak.
Van meet af aan het ‘n gesellige atmosfeer en ‘n gevoel van samehorig-heid onder die mense geheers. Later die aand het almal om die kampvuur vergader en verskeie liedere gesing. Dit het sommige van die ouer feesgangers nostalgies laat nadink oor hulle kinder-tyd en die herkoms van die liedere.
Saterdag was ‘n bedrywige dag. Van vroegoggend af het die Voortrekkertjies gesorg vir hope pret en vermaak. Onder andere was daar boeresport en ander prettige aktiwiteite: van toutrek tot toffieappeleet en vele ander items. Daar was beslis iets vir elke persoon om te geniet.
Later die dag was dit tyd vir die langverwagte potjiekoskompetisie. Kampeerders is uitgedaag om uit te haal en wys vir die beste potjie van die dag. Hoewel dit nie ‘n amptelike kompetisie was nie, was die deelnemers se spanning en geesdrif duidelik waarneembaar. Feesgangers kon kies en keur van watter pot hulle wou eet, en niemand was teleurgestel nie.
Daardie aand het die Kannie Warrie Boereorkes vir die musiek gesorg en oud en jonk het die dansbaan betree om die litte ‘n bietjie los te maak.
Die volgende oggend voor sonsopkoms is ‘n saluut afgevuur. ‘n Geskiedkundige rolprent is vertoon waarna die algemene jaarvergadering gehou is. Daardie aand is die storie agter hierdie fees aan oud en jonk oorvertel. Die gebeure het die volgende dag afgelsuit met ‘n ontbyt by die waterval.
Selfs in Ohrigstad was dit ‘n bedrywige naweek. Vrydag middag het almal by die Potgietersaal bymekaargekom vir ‘n bring-en-braai. Die volgende oggend is ‘n kranslegging by die ou Voortrekkerbegraafplaas gehou waarna almal ‘n erediens in die NG Kerk bygewoon het,
Verskeie kerke in die omliggende omgewing het die naweek ook dienste gehou ter herdenking van die Slag van Bloedrivier.




